Opkomende AHi Kongres en Erkenningsgeleentheid
Kaartjies vir die 2025 MyAHI Kongres en Erkennings Geleentheid is nou aanlyn beskikbaar!
Sluit op 31 Oktober by ons aan in Kaapstad vir ’n inspirerende kongres gevolg deur ’n glansryke toekenningsseremonie wat uitmuntendheid in sake en gasvryheid vier. Toekennings sluit in Sakekamer en Opkomende Sakekamer van die Jaar, sowel as Kleinsake-, Beginner- Gasvryheidsbesigheid en Kleinboer van die Jaar. Moet hierdie hoogtepunt van die jaar nie misloop nie!
Verseker jou kaartjies en kry besonderhede by ons webwerf.
Kyk hierdie handige video as jy onseker is oor hoe om kaartjies aanlyn te bespreek!
AHI Opkomende Sakeleiers van die Jaar aangewys
Gedurende Augustus is AHI se Opkomende Sakeleiers van die Jaar aangewys in 'n glansgeleentheid in Kaapstad. Geluk aan beide Corné Koch, eienaar van Dynamic Bags in Moorreesburg, en Marlon Parker, stigter van RLabs - wat reeds globale impak gemaak het op miljoene mense se lewens.
Luister na Netwerk24 se "Twee opkomende sakeleiers aangewys" artikel
Fotos: Die Burger / Netwerk24 / Natalie Gabriels Photography
Clanwilliam Veldblommeskou 2025 beklemtoon Bewaring en Bewusmaking
Die jaarlikse Clanwilliam Veldblommeskou, een van die groot hoogtepunte op die dorp se kalender, het weer vanjaar duisende besoekers na die Blomkerk gelok. Die 2025-skou is afgesluit met groot lof vir sy kleurvolle vertonings en die sterk fokus op die temas Bewaring en Bewusmaking.
Blomkerk omskep in lewende landskap
Soos gebruiklik het Clanwilliam se “blommemense” saam gewerk om die historiese Blomkerk in ’n asemrowende blomlandskap te omskep. Hierdie NG Kerk, ontwerp deur Carl Otto Hager, is vanaf 1864 tot 1964 as kerk gebruik. Vanaf 1964 word die kerk jaarliks getooi vir die Clanwilliam Veldblommeskou.
Met weke se beplanning en landskapontwerp, insameling en pluk, bou en rangskik het vrywilligers ’n uitstalling geskep wat besoekers laat voel het asof hulle deur die unieke biome van die Cederberg self stap.
Die openingsaand is gelei deur Monique Ruthenberg van CapeNature, hoof van die Cederberg-kompleks. Sy het gefokus op die feit dat daar tans 186 bedreigde plantspesies in die Cederberge voorkom – baie van hulle endemies aan die streek. By die skou is hierdie spesies met rooi plaatjies uitgelig, en besoekers is aangemoedig om vrae te vra by die personeel op vloerdiens. Dit het ’n waardevolle opvoedkundige element bygevoeg tot die tradisionele skoonheid van die vertoning.
Meer as net mooi
Hoewel die Veldblommeskou bekend is vir sy kleurryke prag, het die 2025-skou dit duidelik gemaak dat die skou ook gaan oor bewaring van die natuur en die skep van groter bewustheid. Die Clanwilliam Veldblomvereniging, wat die skou jaarliks aanbied, is toegewy aan die bewaring van die streek se unieke flora.
Die skou het weereens tuin-entoesiaste, floriste, fotograwe en toeriste van regoor die land – en selfs van die buiteland – gelok. Vir baie was dit ’n seldsame kans om van naby blomme te bewonder wat andersins net met groot moeite in die berge opgespoor sou kon word. Die 2025 Veldblommeskou het só nie net die skoonheid van die Cederberg se veldblomme gevier nie, maar ook die belangrikheid van hul beskerming beklemtoon.
Die Clanwilliam Sakekamer is trots op hierdie jarelange tradisie en eer die vrywilligers van die Clanwilliam Veldblomvereniging, sakelui en inwoners van Clanwilliam en omgewing wat jaar ná jaar hul tyd en dienste aanbied. Voorwaar ’n spanpoging om op trots te wees.
Fotos: Billy Jean Photography
Malmesbury Sakekamer Gala-aand
Die Malmesbury Sakekamer het op 13 September 2025 ’n elegante Gala-aand aangebied, waar sakeleiers, ondernemers en gemeenskapsverteenwoordigers bymekaargekom het om uitnemendheid in besigheid te vier.
Die aand was gevul met inspirerende toesprake, uitstekende vermaak en die erkenning van plaaslike ondernemings wat uitstaande bydraes tot die plaaslike ekonomie lewer. Gaste het ook die geleentheid gehad om te netwerk en nuwe sakeverhoudings te bou in ’n stylvolle en feestelike atmosfeer.
Die geleentheid was ’n groot sukses en het weereens gewys dat Malmesbury se sakegemeenskap sterk, verbind en vol potensiaal is vir groei en samewerking.
Besoek die Malmesbury Sakekamer
Besigheid Kortkursusse deur Akademia
Akademia, gestig in 2022, is ʼn platform vir praktiese, akademies gefundeerde kortkursusse wat deur gesaghebbende kenners en akademici aangebied word. Hierdie kursusse is spesiaal gemaak vir sakelui wat hul vaardighede wil ontwikkel en hul kennis wil uitbrei buite formele geakkrediteerde kwalifikasies. Gaan besoek die Akademia Kortkursusse-webblad en ontdek die geleenthede om jou loopbaan en persoonlike groei te bevorder.
Meer by Akademia se webtuiste