2de vlaag van virus in SA kan in feestyd kom

AHi News

Om nie die Covid-19-veiligheidsmaatreëls te volg nie, is so goed soos om te sit en wag dat jy die koronavirus kry.

So sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging. “En as jy dan die virus kry, moet jy nie vra waar of hoekom nie. Dis jou eie skuld,” sê sy.

Dit volg ná ’n navraag oor die sterfte- en infeksiekoers in Suid-Afrika wat die afgelope drie maande weer gestyg het. Teen 15 Oktober het dit op onderskeidelik 2,62% en 1,17% gestaan. Aan die begin van Augustus was dit op 1,6% en 0,84%.

Die sterftekoers in Gauteng het teen 15 Oktober op 2% gestaan.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie staan die internasionale sterftekoers nou op 3% tot 4%.

“Die regering sal dit (SA se sterftekoers) regverdig deur te sê ons is steeds onder die wêreldgemiddeld, maar die invloed is soveel groter. Ons kan dit nie bekostig as mense doodgaan en nog kennis verlore gaan nie, veral omdat soveel mense in die gesondheidsbedryf siek word en sterf,” sê Coetzee.

Prof. Francois Venter, hoof van die Ezintsha-gesondheidseenheid aan die Universiteit van die Witwatersrand en ’n navorser van geneesmiddels, sê die virus gaan vir “minstens die volgende paar jaar” nog in Suid-Afrika versprei word met “seisoenale opvlammings”.

“’n Gesonde afstand en die dra van maskers is hier vir die voorsienbare toekoms.”

Venter sê hy glo die tweede vlaag sal in die feestyd kom, veral omdat mense dan meer saamkom en die kans op verspreiding dus groter is.

Prof. Susan Goldstein, adjunkdirekteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se sentrum vir gesondheidsekonomie, sê dit is nog onseker of Suid-Afrika dieselfde patroon met ’n tweede vlaag sal volg as wat nou in die Noordelike Halfrond gesien word.

“Ons kan ook nie kyk na wat tydens hul somer gebeur het en so ’n vergelyking trek nie, omdat die getal toetse wat gedoen word en die beleid wat gevolg word so drasties van mekaar verskil.”

SA en die res van die wêreld se hantering van die pandemie

Venter sê daar is baie lande wat nie die pandemie reg hanteer het nie, onder meer Amerika, Brittanje en Suid-Afrika.

“Die Britse en Amerikaanse politieke leierskap was afgryslik en Suid-Afrika was gekenmerk deur onsamehangende beleide en swak steun vir die armes.”

Goldstein sê daar was wel lande wat hulle goed van hul taak gekwyt het, soos Nieu-Seeland.

Sy sê daar is positiewe én negatiewe gevolge van Suid-Afrika se hantering van die pandemie.

“Die inperking het tragiese nagevolge gehad, soos die groot ekonomiese invloed, hongersnood, moontlike afname in ander voorkomende gesondheidsdienste en ’n moontlike toename in gesinsgeweld.

“Aan die ander kant was daar ’n paar positiewe aspekte: minder traumagevalle weens minder alkohol, minder mense op straat en minder verkeer, en ’n illustrasie vir die land van hoe die beheer van alkohol die land kan verbeter.

“Nog ’n positiewe punt is die solidariteit wat baie mense teenoor mekaar betoon het,” sê Goldstein.

Volgens haar was Suid-Afrika se grootste uitdaging ’n gebrek aan behoorlike kommunikasie en deursigtigheid.