Entrepreneurs word bygestaan met innoverende platform van AHi

AHi News - Entrepreneurship

Die AHi het pas aangekondig dat hulle ’n platform vir alle entrepreneurs skep. Nuwe en onervare tot gesoute entrepreuners sal hierby kan baatvind. 

Die koronaviruspandemie het duisende mense werloos gelaat – met die werkloosheidsyfer wat daagliks styg.  

Volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste syfers het byna een uit elke drie Suid-Afrikaners nie tans werk nie. Ekonome meen dat dié syfer selfs hoër gaan raak met die verwagte derde vlaag van infeksies wat die land sal tref.

“Die realiteit is dat ons nie kan staatmaak op die regering om volhoubare werksgeleenthede te skep nie. Goeie entrepreneurs gaan deurslaggewend wees tot die sukses en voortbou van die land se ekonomie,” het dr. Willie Cilliers, uitvoerende direkteur van die AHi, gesê.

Die AHi help entrepreneurs in Suid-Afrika vir bykans agt dekades lank – met alles van die registrasie ’n besigheid tot die groei en finansiering van ’n besigheid.

“Met die werkloosheidsyfer in gedagte, het ons kragte saamgespan om ’n selfoonvriendelike, funksionele webtuiste te skep waaruit elke persoon kan baat – maak nie saak waar jy op die besigheidspektrum is nie.

“Vir voornemende entrepreneurs gee ons die nodige opleiding om te verseker dat hulle die volgende stap kan vat om hul eie besigheid te begin,” het Cilliers bygevoeg. 

“Ons help ook selfstandige entrepreneurs en kleinsake-eienaars om hulle besigheid te groei en rus hulle met die nodige inligting en opleiding toe.”

“Ons help ook besigheidsassosiasies en sakekamer met ledewerwing en gee werksoekers die geleentheid om hul Curriculum Vitae op ons portaal te laai.

“Verder kan sake-eienaars voordele aan mekaar uitruil en nooi ons hulle na ’n reeks netwerksgeleenthede en aanlynseminare.”

Marice Mercuur is in 2019 aangewys as die AHi se entrepreneur van die jaar. Sedertien het sy haar Rooibos-produktereeks uitgebrei en is dit huidiglik is talle winkels landwyd beskikbaar. 

“Daar is verskeie opsies en dis maklik om aan te sluit,” het Cilliers gesê.

Besoek www.myahi.co.za vir meer inligting.