Staatsrede hou beloftes vir 2021 in waarna die AHi uitsien

AHi News

In President Cyril Ramaphosa se staatsrede wat op Donderdag, 11 Februarie gelewer is, het hy verwys na die Kaapse fynbos in sy beeldspraak en beklemtoon watter uiterste moeilike jaar 2020 was.

Die AHi van die Wes-Kaap glo wel dat die ekonomie stadig sal herstel – maar dat die regering en alle sektore van die land se ekonomie nou daadwerklik sal moet hande neem en saamstaan.

Volgens Dr. Willie Cilliers, Uitvoerende Hoof van die AHi, sal die regering, arbeid, besigheidsektore én gemeenskappe nou die fonadsie moet bou.

“Met almal se samwerking kan dit moontlik wees, maar alle gemeenskappe sal erken moet word as deel van ’n inklusiewe, oop ekonomie,” het Cilliers gesê.

“Die vergelyking van die land se moeilike jaar as gevolg van die pandemie was perfek met dié van Kaapse fynbos,” het Cilliers gesê.

Pres. Ramaphosa het vewys na die Kaapse fynbos en sy weerstandigheid teen uiters moeilike klimaatstoestande. Hy het verder ook verduidelik dat fynbos nodig het om te brand om sodoende die sade te laat ontkiem en nuwe groei te stimuleer.

“Ons kan verstaan dat dié Staatsrede nie normaal kan wees in vergelyking met vorige jare nie, en sien uit om te sien dat die fokus wel op die vier areas soos genoem sal wees,” sê Cilliers.

Die vier areas waarop Pres. Ramaphosa en die regering in 2021 gaan fokus plaas is die effektiewe uitrol van ’n inentingsprogram teen Covid-19, ekonomiese herstel, hervormings in die ekonomie en die bevegting van korrupsie.

“Die President het erken dat daar ’n afname van 6 % in die ekonomie gedurende die derde kwartaal van 2020 aangetoon is. Die AHi is van mening dat dié syfer in die laaste kwartaal ook moontlik nader aan 10% sal wees,” het Cilliers bekommerd bygevoeg.

Ten opsigte van die werkloosheidsyfer se toename na bykans 45% op die uitgebreide basis en werkloosheid onder die aktiewe jeug op bykans 50%, wil die AHi beklemtoon dat werkloosheid slégs aangespreek kan word as die ekonomie groei.

“Die privaatsektor is die grootste werkverskaffers en die President het hierdie stelling ondersteun deur te erken dat die regering ook nagelaat het om sy beplanning van 2020 uit te rol en die gemak van besigheid te verbeter,” verduidelik Cilliers.

Volgens Cilliers sal wetgewing hersien moet word om besigheide by te staan en te kan voldoen aan daardie wetgewings.

“Daar is ook melding gemaak dat die regering 1 000 jong entrepreneurs en 25 000 beginner- entrepreneurs gedurende 2020 bygestaan is. Met die afname in die ekomonie en die werkloosheid van 45% in ag geneem, was hierdie bystand slegs ’n druppel in die see en baie meer sal gedoen moet word om Suid-Afrika uit die krisis te kry,” beklemtoon Cilliers.

Cilliers het verduidelik dat die regering die besigheidsklimaat sal moet verander sodat die besigheidssektor kan groei en die inklusiewe ekonomie die werk kan skep.

“Wat wel baie goeie nuus was, is die investering van groot maatskappye in die motorbedryf in Suid-Afrika,” het Cilliers gesê.

Volgens Cilliers sal daar egter ook baie aandag aan die groei van die kleinsake sektor in die formele asook informele ekonomie gegee moet word.

“Die plaaslike vervaardiging en aanmoediging om plaaslik te koop word ondersteun, maar moet deurgevoer word regdeur die hele ekonomie,” het hy benadruk.

Die TERS-befondsing wat uitgebrei word tot Maart 2021 vir bedrywe – veral vir die toerismesektor – word deur die AHi verwelkom.

“Korrupsie bly die grootste vyand van ekonomiese groei en bemagtiging en móét uitgeroei word. Daar is melding gemaak van die planne wat in plek gekry is, maar ten spyte daarvan het ons grootskaalse korrupsie met die Covid-19-befondsing gesien.

“Dit is onduidelik waarom die regering nie stelsels en prosedures in plek het om die korrupsie te verhoed nie. In elke geval moet daar éérs verliese gely word en dan word die reeds skaars finansiële hulpbronne van die staat verder getap om die skuldiges op te spoor.

“Dit het tyd geword dat stelsels in plek gestel word en dat skuldiges tronkstaf opgelê word om as voorbeeld vir ander misdadigers te dien,” het Ciliers gesê.