Idee met pizza kry vlerke ná uitbreek van koronavirus

Entrepreneurship

’n Voorliefde vir pizza, innovasie en die koronapandemie het vir ’n veelsydige entrepreneur en kosliefhebber van Worcester, Andries Viljoen, gelei tot die ontstaan van die Pizza Braai wat reeds groot opslae op sosiale media gemaak het. 

Dié Pizza Braai is ’n klein oondjie waarin braailiefhebbers gerieflik hul pizza oor die kole kan braai – en selfs ’n verskeidenheid ander gebruike word deur verbruikers beproef. Van aartappels, pork belly tot braaibroodjies kan nou met groot gemak gebraai word.

“Ons het reeds die idee in 2012 gekry en het op ’n Vrydagmiddag die eerste prototipe gebou. Die Saterdag het ons ons eerste pizza-braaipartytjie gehou en dit was ’n treffer,” het Andries vertel.

Andries en sy vrou Marja, is ook van die eienaars van ’n familiebesigheid, die luukse trou venue en gasteplaas, Damas, wat teen die skilderagtige wingerde van die Brandwachtvallei geleë is.

“Die Pizza Braai het so goed gewerk dat ons besluit het om die ontwerp aan te pas vir ons venue sodat ons vir tot soveel as 120 gaste kan pizza maak,” het Andries verduidelik.

“Ek is van jongs af geleer dat ’n mens jouself in verskeie rigtings moet bekwaam en toe die koronapandemie die land tref, was dit net weereens ’n bewys dat min mense net op een bron van inkomste kan staatmaak,” het hy ingedagte vertel.

“Covid-19 en die gepaardgaande regulasies wat in 2020 ingestel was, het daartoe gelei dat troues eers op ys was en dat ons restaurant, ook deel van die Damas-groep, moes staatmaak op bestellings en tuisaflewerings,” het hy bygevoeg.

Volgens Andries was dit egter nie ’n nuwe rigting wat volhoubaar was nie, juis omdat Damas ’n entjie buite die dorp geleë is en dit die spoed en koste van aflewering ’n uitdaging gemaak het.

“Inperking het almal hard getref en ewe skielik het almal se behoeftes ook verander. Daar was baie gebraai, maar mense was ook uitgehonger vir hul gunsteling wegneemetes naamlik pizza,” vertel Andries.

“Ek dink veral die vrouens het gesmag na ietsie anders as rooivleis oor die kole,” voeg Marja laggend by.

“Ons Pizza Braai was perfek, daar was net één probleem – ons het nie meer ’n klein protipe gehad nie – net die groot weergawe wat ons by troues gebruik,” vertel hy.

Terug na die tekenbord en ’n paar probeerslae later is die klein Pizza Braai vir die publiek weereens gebore.

“Die ontvangs van die publiek was net tot dusver ongelooflik en soveel van die mense wat dit gekoop het laat weet ons dat hulle ook ander gebruike daarvoor gevind het,” het Marja gesê.

“Aan die begin was dit veral die vrouens wat ons gekontak het om dit as geskenke vir hul mans aan te skaf, maar nou kom die bestellings van oral oor – mans én vrouens,” vertel sy.

Volgens die Viljoens is dit veral die atmosfeer en interaksie wat die Pizza Braai skep wat mense gaande het – tot foto’s van pizza-kuiers word gereeld aangestuur. 

“Almal kan kuier om die Pizza Braai en hul eie pizzas maak en dit is nie net pret nie, maar lei ook tot kwaliteit familietyd saam,” verduidelik Andries.

Volgens Marja is hulle as gesin nogsteeds nét so lief vir pizza soos voor die Pizza Braai. 

“Ons kinders is onderskeidelik sewe en ses jaar oud en wil elke tweede aand pizza maak,” vertel sy laggend.

Die immergewilde braaimeester, Jan Braai, het ook onlangs die Pizza Braai uitgetoets en dit op sy sosiale media gedeel waarin hy dit goedgekeur het.

Dis maklik om die Pizza Braai te gebruik en saam met dié oond is ook ’n Pizza Braai-spaan ingesluit. Dis gerieflik by die huis, maklik genoeg om saam te neem na vriende en ook in die kol vir kampliefhebbers.

Vir meer inligting en om te bestel, besoek hul webstuiste www.pizzabraai.co.za of sosiale media – Facebook (PizzaBraai), Instagram (pizza_braai).