Toe die stigtingskomitee van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) op 10 Februarie 1942 in Johannesburg byeengekom het, was daar was ‘n groot behoefte aan ‘n Afrikaanse sake-organisasie wat jong en onervare sakemanne kon help met opleiding en voorligting. Daar was ‘n behoefte aan ‘n instansie wat kon help om onderlinge steun te bevorder en entrepreneurs ‘n regmatige aandeel in die ekonomie te gee.
Nou, 78 jaar later, is baie van daardie doelstellings bereik. Met die doel om geleenthede te skep vir kleinsakeondernemings en om kleinsake te help groei, het die AHi ‘n besigheidsnetwerk geskep waar enige besigheid en entrepreneur binne minute kan aansoek doen.
Die afgelope paar jaar het die AHi ook hande gevat met sakeleiers in Suid-Afrika, asook sakeorganisasie Unie van Zelfstandige Ondernemers (Unizo) in België, om seker te maak hulle bring innoverende internasionale sake-dienste, soos opleidingskursusse vir entrepreneurs, na Suid-Afrika.
Namate die AHi-intekenaars ekonomies selfstandig geword het, het die AHi sy eie horisonne verbreed en is hy vandag ‘n inklusiewe netwerk van meer as 40 sakekamer en 5 000 entrepreneurs in die Wes-Kaap.