Afname van 70% in toerisme wêreldwyd weens pandemie

AHi News - Tourism

Die wêreldwye reisbeperkings weens die koronaviruspandemie het tot ’n afname van sowat 70% in internasionale toerisme gelei.

Dit is luidens ’n verklaring van die Verenigde Nasies (VN) se Wêreldtoerismeorganisasie (WTO) en gegrond op data van die eerste agt maande van die jaar.

“Die ongekende afname hou ernstige maatskaplike en ekonomiese gevolge in en miljoene werkgeleenthede en ondernemings is in die gedrang,” sê Zurab Pololikashvili, sekretaris-generaal van die organisasie, in die verklaring.

Luidens die organisasie se inligting het die getal internasionale besoekers in Julie en Augustus met onderskeidelik 81% en 79% gedaal.

Dit is gewoonlik die besigste somermaande in die Noordelike Halfrond.

Die verlies van ongeveer $730 miljard in uitvoerinkomste uit internasionale toerisme is agt keer meer as die wêreldwye ekonomiese en finansiële krisis se verlies in 2009. Pololikashvili sê die syfers benadruk hoe belangrik die gekoördineerde heropening van die toerismesektor is.

Die vraag na reis is grootliks nog beperk weens die onsekerheid oor die pandemie en die jongste neiging dui op ’n afname van sowat 70% in toerisme vir die hele 2020.

Volgens die organisasie het alle wêreldstreke groot afnames in besoekers ervaar in die eerste agt maande van die jaar en lyk die statistieke soos volg:

• Asië en Stille Oseaan: -79%
• Afrika en die Midde-Ooste: -69%
• Europa: -68%
• Amerika: -65%

Die verbod op reis en die stadige reaksie op die pandemie word steeds as die grootste struikelblokke vir die herstel van internasionale toerisme gesien.

’n Vooruitskatting deur ’n paneel kenners van die organisasie is dat die getalle eers in die derde kwartaal van 2021 sal herstel.