AHi Clanwilliam Sakekamer het op Donderdag, 26 November, hul jaarafsluitingsfunksie by Bella-Louise Restaurant in Clanwilliam gevier. Alle Covid-19-protokolle was in plek, en ’n regstreekse beeldstroom van die aand se verrigtinge is op Clanwilliam Sakekamer se Facebook-blad uitgesaai én op die AHi se blad gedeel.
Een van die hoogtepunte van dié aand was die aankondiging van Clanwilliam Sakekamer se Opkomende en Skeppende Entrepreneurs van 2020.
Clanwilliam Sakekamer wou graag met dié toekennings entrepreneurs inspireer om die prestasies van diegene wat die pad voor hulle geloop het, te oorskry.
Die kandidate moes oor ’n paar persoonlike kwalifikasies beskik, wat ’n passie vir sy / haar werk; persoonlike groei; ’n hoë standaard van etiese gedrag; ’n positiewe houding; toewyding en bemarkingsvermoëns insluit.
Die entrepreneurs hoef nie geaffilieer te wees met Clanwilliam Sakekamer om deel te neem nie, maar moes binne ’n 50km-radius van Clanwilliam hul besigheid bedryf.
Die top-5-kandidate wat in aanmerking gekom het vir die pryse, is Boeta Genis van Bázeru Events; Mandi Louw van Blouwdruk; Marilie van der Merwe van LeesLisa; Nicolene Fourie van Lucky Horse en Corene van Zyl van Mini Rabbit.
Uiteindelik is Marilie van der Merwe, van LeesLisa, as Clanwilliam Sakekamer se Skeppende & Opkomende Entrepreneur van 2020 aangewys. LeesLisa se leuse is “Die grootste geskenk wat jy vir ’n kind kan gee – is ’n liefde vir lees”.
In Marilie se inskrywingsbrief het sy geskryf:
“LeesLisa het begin deur my liefde vir kinders, en my behoefte om ander te inspireer. Ek het LeesLisa op 17 Mei 2019 op die been gebring, maar die droom het al lank voor daardie datum begin. As jy van ’n klein dorpie soos Albertinia kom, droom jy groot. Tydens my tweede jaar van studie by SA Writers’ College, waar ek ’n kursus in die skryf van kinderboeke voltooi het, het ek weereens besef dat ’n mens bloot net êrens moet begin – al is dit klein. Die grootste ondernemings het êrens begin.”
“Seker die belangrikste bemarkingsstrategie (as ’n entrepreneur) is om altyd innoverend te bly en anders na ’n situasie te kyk. As jy met ’n positiewe ingesteldheid na iets kyk, sal jy altyd inspirasie vind. Dis juis wat ek gedoen het. Ek het tydens die vlak-5-inperking vir drie weke lank elke aand om 19:00 vir kinders regoor SA regstreeks stories voorgelees. Omdat ek reeds ’n liefde vir lees het en my kinders van kleintyd af dieselfde liefde kweek, het ek genoeg boeke gehad om voor te lees. Ek het ongelooflike terugvoering gekry van ouers wat foto’s en video’s instuur van hoe kinders my stories geniet. Ek het nie om finansiële gewin voorgelees nie, maar bloot om die liefde wat ek het vir kinders en stories. Min het ek geweet dat hierdie uitkyk op die lewe my vandag baie sal help. ’n Mens kan dit seker ’n bemarkingstrategie noem, maar dit was nie my motivering nie. Ná my drie weke van voorlesing het ek werklik gesien hoe honger kinders en ouers is vir goeie Afrikaanse stories met ’n dieper betekenis en veral stories wat inspireer. Ek het dadelik aan die werk gespring en die stories wat ek reeds geskryf het, gestuur vir manuskripontwikkeling, ’n illustreerder gekry en my eerste twee boeke, asook my eie webtuiste, het op 4 September 2020 die lig gesien. Een van my grootste drome het waar geword en LeesLisa is toe amptelik geregistreer as ’n uitgewersmaatskappy. My twee boeke is deur my eie maatskappy gepubliseer.”
Haar eerste boekbekendstelling vir die brul-jante boek wat fokus op Diabetes-bewusmaking, Lukas Leeu Kry Leeumoed, vind vandag plaas by die Ou Tronk Museum se binnehof in Clanwilliam.
Jy kan LeesLisa se Facebookblad hier besoek om meer van haar uit te vind.
Mandi Louw van Blouwdruk het met die tweede prys weggestap; en Nicolene Fourie van Lucky Horse met die derde prys.
Die entrepreneurs is beloon met bemarkingswaarde deur Clanwilliam Sakekamer se digitale platforms, sowel as kontantpryse wat moontlik gemaak is deur RSAM, ’n korttermynversekeringsmakelaar in Clanwilliam.
Verder die aand is B&S Handelaars as Clanwilliam Sakekamer se Onderneming van die Jaar aangewys. Dié gewapende reaksie besigheid word bedryf deur Barend, Sonja en Heinrich Strassberger wat spesialiseer in alarms en CCTV-kameras. Met behulp van die Clanwilliam SAPS en B&S Response verseker hulle die veiligheid van die inwoners en besigheidseienaars van Clanwilliam.
Clanwilliam Sakekamer wil graag almal bedank wat die aand moontlik gemaak het, en ’n spesiale dank aan Cederberg-wyne wat die heerlike wyne geborg het, Rooibos Beperk vir die ystee en Louise Nortje wat haar restaurant oopgestel het vir die spesiale funksie.
Jy kan meer lees op Clanwilliam Sakekamer se Facebook-blad deur hier te klik.
Jy kan ook die video hier onder kyk waar dr. Willie Cilliers, vanuit sy kantoor, vir al die wenners geluk.