Christo van der Rheede van Agri SA en die politieke kommentator Theo Venter tel onder top-sprekers wat raadgee oor belangrike sake-besluite en inligting oor steunfondse vir kleinsake-ondernemings
Hóé die sakelandskap gaan lyk vir kleinsakeondernemings in die nadraai van die covid-19-krisis is nog duister. Die besluite wat entrepreneurs en sakelui nóú maak, kan egter bepalend wees oor watter ondernemings weer hulle deure gaan oopmaak ná die staat van inperking, en wie nie.
Om hulp en leiding te gee te midde van die ontwrigting wat die pandemie tans veroorsaak, bied die AHi Wes-Kaap op Woensdag, 15 April 2020 saam met die digitale strategie-agentskap YehBaby Digital ’n gratis aanlynseminaar vir kleinsakelui en entrepreneurs aan.
Die webinaar, met sprekers soos die sakeleier Christo van der Rheede en politieke kommentator Theo Venter, fokus op dít wat kleinsakebedrywe kan doen om nie net die pandemie te oorleef nie, maar ook om in die nadraai daarvan te floreer.
Ivor Price, ’n bekende uitsaaier en aanbieder van die seminaar, sê die AHi-inisiatief beloof om entrepreneurs te help om hulle voete ná covid-19 te vind. Dit bied ook raad oor die uiteenlopende hulppakkette wat tans vir klein-, medium- en makro-ondernemings op die tafel is.
Volgens dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, is die belangrikheid van die webinaar eerstens om besighede in te lig oor die huidige ekonomiese situasie in Suid Afrika. Dit volg ná die waarskuwing van die miljardêr Johann Rupert dat die coronavirus-pandemie nie bloot ’n ekonomiese insinking veroorsaak het nie, maar ook ’n algehele herbelyning van die ekonomiese stelsel.
“Die opheffing van die covid-19-inperking einde April gaan groot uitdagings op die kleinsakesektor en entrepreneurs plaas. Hulle moet toegerus word met hulpmiddels en beste praktyke,” sê Cilliers. “Die AHi Wes-Kaap is baie bekommerd oor die ekonomiese impak van die inperking van die 21 dae asook die verlenging van die addisionele twee weke tot einde April. Die besluite van pres. Cyril Ramaphosa word ten volle ondersteun en elke lewe van ons landsburgers is uiters belangrik.”
Die sluiting van besighede, wat ook bykans 80% van die AHi Wes-Kaap se lede-besighede direk raak, gaan ‘n uiters nadelige invloed op die ekonomie teweegbring, met versekerde werksverliese op groot skaal. Die hulppakkette wat vir besighede aangebied is, word oorval met aansoeke, soveel so dat die aanlyn-aansoekportale dit nie kan hanteer nie. Die vereistes en moontlike hulp is ook nie altyd duidelik nie.
Cilliers sê: “Die AHi Wes-Kaap is van mening dat die bedrae beskikbaar glad nie aan die vraag sal kan voldoen nie en daar moet dus nie baie hoop daarop geplaas word nie. Bykans 90% van alle onlangse navrae deur die AHi-inbelsentrum handel oor die prosesse vir die eis van werkloosheidsversekering (WVF) asook die platforms vir hulppakette wat nie werk nie.”
Hy beklemtoon egter dat dit vir die AHi Wes-Kaap uiters belangrik is om nou die fokus te verskuif na 1 Mei 2020, en wat gaan gebeur indien besighede toegelaat word om hulle deure weer te open vir besigheid.
Volgens Ronelle Louwrens, uitvoerende hoof van YehBaby Digital, kan die webinaar ook help om die angs van die vyf-week-inperking met nuwe insigte vanaf sakeleiers en ontleders te verlig.
“Kleinsake-eienaars beleef ongekende onsekerheid weens die covid-19-krisis en die gevolglike staat van inperking. Dit laat die meeste van hulle sonder omset, maar met uitgawes wat steeds ophoop. Dit lyk toenemend na ‘n uitgemaakte saak dat dit vir die meeste van ons nie bloot ‘business as usual’ gaan wees wanneer die inperking opgehef word nie,” sê sy.
Louwrens glo die sakelandskap is reeds fundamenteel verander en dat ondernemings met ‘n hele nuwe stel uitdagings gekonfronteer gaan word. Sy is egter ook oortuig dat daar in die nadraai van covid-19 onvoorsiene geleenthede gaan wees vir entrepreneurs en kleinsake-ondernemings.
“Heelwat van die perke wat kleinsakemense weerhou het daarvan om met oorgawe in die digitale ekonomie in te klim, is verwyder deur hierdie krisis. Ons is nou almal gewoond daaraan om aanlyn te werk en te leef. Hierdie ontwrigting dui vir die eienaars van tradisionele ondernemings die weg aan na die geleenthede wat die aanlynwêreld vir hulle kan inhou.”
Cilliers beklemtoon hoe noodsaaklik vinnige en kalm besluitneming is gedurende en na afloop van die krisis. “Die manier van besigheid doen sal drasties aangepas moet word van die tradisionele metodes. Die negatiewe inkomstes en stadige groei in omsette gaan gedwonge inkortings van uitgawes teweeg bring. Die hantering van skuld met ooreenkomste vir afbetalings sal goed onderhandel moet word. Kontantvloei gaan beslis die sleutel wees wat die besigheid gaan oopsluit of dalk permanent gaan toesluit.”
Die AHi Wes-Kaap beskik oor ‘n databasis van kundiges, opleidingsfasiliteerders, besigheidsmentors en diensteverskaffers uit alle sektore en ook ‘n network van sakekamers om sy lede by te staan deur hierdie uiters uitdagende tye in ons landsekeonomie. Daar is ook prosesse in plek om op ‘n daaglike basis hulp te verleen aan lede met beste praktyke om veral hulle besighede weer lewensvatbaar te kry.
Die seminaar vind Woensdag 15 April 2020 van 08:45 tot 13:00 plaas.
Sakelui en entrepreneurs kan gratis registreer by hierdie adres: https://bit.ly/AHiwebinar
Wie is die AHi Wes-Kaap?
Die AHi is ’n vrywillige organisasie van 46 sakekamers wat bykans 9 000 entrepreneuriese kleinsakebesighede in die formele en informele sektore verteenwoordig.
Wat doen die AHi Wes-Kaap?
Die AHi is ’n dienste–organisasie en fokus op die volgende vier sleuteldienste:
- Beskerm die belange van sy lede op alle vlakke van regering;
- Hou sy lede ingelig oor beskikbare hulpmiddels en dienste;
- Adviseer sy lede met aanlyn-opleiding, besigheidsmentors en diensverskaffers, asook webtuistes en weeklikse elektroniese nuusbriewe. ‘n Inbelsentrum is beskikbaar vir onmiddelike reaksie op navrae; en
- Verbind sy lede met netwerkgroepe (sakekamers).
Vir meer inligting, skakel dr. Willie Cilliers by 072 800 5796 of e-pos chairman@ahi.wpsite.co.za.