Die AHi is opgewonde om Ivor Price, veelbekroonde joernalis en medestigter van Food For Mzansi, te verwelkom as mede-direkteur van die AHi.
Ivor Price het al diep spore in die media getrap as joernalis, radio- en TV-aanbieder. Sy eerste koerantberig het op die ouderdom van veertien reeds verskyn. Loop in die gange van Die Burger – die Wes-Kaap se grootste Afrikaanse dagblad van daardie jare – en Ivor se naam sal nogsteeds met die hoogste respek genoem word.
As joernalis wat al in verskeie mediums gewerk het was radio sy groot liefde en luisteraars het hom leer ken as aanbieder en vervaardiger by RSG se Befonk, Met raad en daad, Monitor, Spektrum en Naweekaktueel.
Ivor was ook ’n nuusleser op SABC News en daarna ’n geliefde kuiergas in kykers se huis as aanbieder van Landbouweekliks – wat weekliks op VIA uitgesaai word.
In volgende keer se nuusbrief het ons ’n intieme kuiertjie saam met Ivor en hoor wat sy visie en hartklop vir Afrikaans – en so ook die AHi – is.