Die Wes-Kaapse regering het in ’n verklaring hul bekommernis uitgespreek oor die stygende infeksiekoers van die Covid-19-virus in die Suid-Kaap, en spesifiek in George.
George het tans 623 aktiewe Covid-19-gevalle wat die hoogste aktiewe gevalle in die Wes-Kaap is.
Dr. Willie Cilliers, uitvoerende direkteur van die AHi Wes-Kaap, versoek klein- tot grootbesighede in die Suid-Kaap om hul Covid-19-protokolle op te skerp.
“Van die protokolle is om seker te maak almal in jou werksplek dra maskers,” waarsku Cilliers in ’n video wat op sosiale media gedeel is. Cilliers waarsku ook vir taxi-eienaars dat hulle nie moet toelaat dat mense in ‘n taxi klim sonder ’n masker nie. Geen maskers lei tot die direkte verspreiding van die virus onder die passasiers, veral in die koronavirus-brandpunte.
“Nog ’n protokol is om seker te maak dat die 1,5-meter afstand gehandhaaf word tussen mense in die werksplek,” noem Cilliers.
Cilliers noem ook dat dit belangrik is om sanitasiepunte regdeur die werksplek te sit waar werkers en besoekers hul hande kan was. Daar is kreatiewe maniere om sanitasie te verseker sonder dat mense aan ’n sanitasiebottel vat.
Verder doen Cilliers ’n beroep om besigheidseienaars om seker te maak dat wanneer personeel siek voel, hulle by die huis sal bly. “Dit is dan ook belangrik dat personeel die Covid-19-hulplyn skakel by 080 928 4102 om simptome te bespeek,” vra Cilliers.
Ons kan net die virus bekamp indien ons saamwerk om die verspreiding te keer.
Die Suid-Kaap is totaal afhanklik van toerisme om by te dra tot die ekonomie van die dorpe binne die streke.
“Daar is dié tyd van die jaar ’n afskaling in werkstake en besighede maak reg vir Desembervakansie, maar die beroep is dat besighede hul protokolle sal verskerp om sodoende te keer dat die virus erger versprei. Indien die virus nie bekamp word nie, kan President Cyril Ramaphosa strenger inperkings instel, veral in die brandpunte, wat ’n katastrofiese effek sal hê op die ekonomie van die streek,” noem Cilliers.
Dr. Willie Cilliers vra ook dat inwoners wat in die straat loop ander sal aanmoedig om maskers te dra, indien hulle nie doen nie. “Dit is net deur samewerking wat ons die verspreiding van die virus kan stopsit,” vra Cilliers.