Bevelsraad oorweeg strenger inperking

AHi News

Net ’n week nadat nuwe inperkings ingestel is, wag die land weer op die moontlikheid dat pres. Cyril Ramaphosa nuwe inperkings vir die feestydperk kan aankondig noudat die land amptelik ’n tweede vlaag van koronavirusinfeksies ondervind.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Donderdag voorleggings aan die nasionale koronavirusbevelsraad gedoen nadat provinsiale regerings hul eie insette gelewer het oor hoe om die verspreiding van die virus te bekamp.

Mkhize het Woensdag op ’n nuuskonferensie nie veel uitgebrei oor die moontlikheid van strenger inperkings nie, maar het wel gesê provinsiale regerings meen groot byeenkomste en partytjies moet dringend beperk word omdat dit in superverspreidergebeurtenisse kan ontaard.

Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes- en Oos-Kaap ervaar die meeste nuwe infeksies.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het in ’n verklaring ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om voorsorgmaatreëls ernstig op te neem.

Die land in sy geheel voldoen nou aan die vereistes van ’n tweede vlaag, volgens die Suid-Afrikaanse Covid-19-modelleringskonsortium se assessering.

Luidens die verklaring beteken ’n tweede vlaag infeksies wat voorkom ná die eerste kruin wanneer die nuwe gevalle 30% van die eerste kruin uitmaak.

“Wetende dat die meeste mense moeg is vir Covid-19 en die voorkomende maatreëls, doen ons ’n beroep op Suid-Afrikaners om nie oorgerus te raak nie.”

Intussen het Herman Mashaba se beoogde politieke party, ActionSA, in ’n verklaring gesê dat dié organisasie alle fisieke gebeurtenisse uitstel in die lig van die tweede vlaag.

Lees meer hier.