Die Tuinroete-distrik het die laaste paar weke ’n skerp styging in hospitalisasies weens Covid-19 ervaar en daar is vroeë tekens dat die sterftesyfer begin styg.
Dit is luidens ’n voorlegging van die provinsiale departement van gesondheid wat Donderdag spesifiek gefokus het op die virussiekte in dié distrik – met brandpunte in George, Knysna, Plettenbergbaai, Mosselbaai en Oudtshoorn.
Dr. Keith Cloete, departementshoof, het die middag op ’n aanlyn mediavergadering van die premier gesê die onlangse uitbrekings kom neer op ’n tweede vlaag in die Tuinroete, met die risiko dat dit na ander dele van die provinsie kan versprei. In die res van die provinsie bly die getal gevalle en hospitalisasies nog grootliks stabiel, met stygings wat in enkele plekke in klein groepe voorkom.
Die Tuinroete is tans ook die enigste deel in die provinsie waar die getal positiewe toetse tot 20% en hoër gestyg het. Daar is sowat 750 Covid-19-pasiënte in private en staatshospitale oor die provinsie heen, waar dit in September minder as 500 was, volgens Cloete. In die Kaapstad-metropool word middelklasgebiede nou geraak en al meer gevalle word met byeenkomste en partytjies verbind.
Cloete sê die grootste probleem is steeds dat mense hulself nie beskerm deur maskers te dra, hul hande gereeld te ontsmet en ’n veilige afstand te handhaaf nie. Dr. Terrence Marshall, hoof van die gesondheidsgroepering in die Tuinroete, sê daar was in die afgelope vier tot vyf weke ’n geweldige toename in gevalle in die distrik wat na omliggende gebiede versprei het.
Die dorpe met die meeste gevalle is George (1 102), Knysna (347), Mosselbaai (327), Plettenbergbaai (204), Oudtshoorn (181), Groot-Brakrivier (52), Kranshoek (39), Riversdal (39) en Sedgefield (35). In George staan die gevalle in Thembalethu op 293 en in Pacaltsdorp is dit 135, met 97 in Parkdene en 74 in Conville. Die distrik se gemiddelde van 230 gevalle per 100 000 van die bevolking is ook baie hoër as die provinsie se syfer van 65 per 100 000. In Knysna is dit so hoog soos 347 per 100 000 en 319 per 100 000 in George, met 229 per 100 000 in Mosselbaai, 60 per 100 000 in Oudtshoorn en 43 per 100 000 in Hessequa.
Marshall sê in Knysna, Plettenbergbaai en Mosselbaai kom die gevalle redelik verspreid voor en daar is nog nie groot groepbesmettings nie. Die ouderdomsverspreiding wissel grootliks van 21 tot 25 jaar en van 36 en 40 jaar. In die afgelope drie weke was die persentasie positiewe toetse in George 33% en in Knysna 32%, met 25% in Mosselbaai en 38% in Bitou. In Hessequa en Oudtshoorn is dit 10%.
Daar was teen Woensdag 109 nuwe gevalle in Knysna en Bitou, 68 in George, 29 in Mosselbaai (met nog 42 Donderdag), 11 in Hessequa, drie in Oudtshoorn en twee in Kannaland nadat twee asimptomatiese pasiënte positief getoets is. Hospitalisasies in die distrik maak ook 159 van die 750 gevalle in die provinsie uit, luidens die voorlegging. Van dié pasiënte is 26 in die waakeenheid.
Teen Woensdag was daar 75 Covid-19-pasiënte in die hospitaal in George en 16 in die waakeenheid. In Knysna en Bitou is daar 34 hospitalisasies en vier pasiënte in die waakeenheid, in Mosselbaai is daar 30 hospitalisasies met vier pasiënte in die waakeenheid, in Oudtshoorn is daar 17 in die hospitaal en twee pasiënte in die waakeenheid en in Hessequa is daar drie Covid-19-pasiënte in die hospitaal.