‘Ek wil kinders se lewens verander’ – Marilie van der Merwe

AHi News - Entrepreneurship

Ons het vandeesweek met Marilie van der Merwe, wat pas aangewys is as Clanwilliam Sakekamer se spoggerige Opkomende & Skeppende Entrepreneur van die Jaar, gesels.

Clanwilliam Sakekamer het vir Marilie beloon met ’n trofee, prysgeld asook blootstelling op hul platforms om by te dra tot haar bemarking.

In ons vorige nuusbrief het ons jou bietjie vertel van die entprepreneurs, maar ons is opgewonde om vandag met bietjie meer uit te vind oor haar en haar besigheid.

Hier is ons 10 vrae-en-antwoorde met top-entrepreneur Marilie van der Merwe:

1. Wat het jou motiveer om in te skryf vir AHi Clanwilliam Sakekamer se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie?

Die dag toe Sanet Stander my gebel het en my nomineer om deel te neem aan dié kompetisie het ek onmiddelik belanggestel. Ek is iemand wat elke geleentheid aangryp. Al voel jy soms effens bang, moet jy uit jou gemaksone klim, want dit is hoe jy groei en jou volle potensiaal bereik.  

Ek het dadelik die geleentheid raak gesien dat my Uitgewersmaatskappy LeesLisa ongelooflike blootstelling kan kry. 

2. Waar het jou passie vir lees vandaan gekom?

Meeste mense wat passievol oor iets is se antwoord gaan gewoonlik wees vandat hul kan onthou, en my antwoord is nie anders nie. Ek onthou hoe ek mal was oor stories nog voordat ek regtig kon lees. Ek het deur die tekenprentjies my eie stories geskep. So het ek pens en pootjies binne in die storie geklim met my ryk verbeelding. Toe ek self kon begin lees, het my voete die pad biblioteek toe baie goed geken. My passie vir lees en om ’n liefde vir lees ook by kinders te kweek, het met die jare net groter geword.  

3. Jy fokus geweldig op kinderboeke. Hoekom juis die kindermark?

Ek was vir 9 jaar in die Onderwys en ek het die leemte raak gesien dat dat daar nie storieboeke is wat kinders inspireer en moeilike kwessies aanspreek nie. Kinders van vandag sukkel geweldig om sin te maak uit die wêreld wat so seer en gebroke is. Ek wil met my boeke vir die kinders moeilike onderwerpe op hul vlak verduidelik.  

4. Wat is jou idee agter die naam “LeesLisa”?

Toe ek meer as ’n jaar terug met die konsep begin het, het ek die perfekte naam gesoek en ’n kompetisie geloots op Facebook waar almal kon name instuur. Ek het hieruit die wenner gekies. Een van my baie goeie vriendinne het die naam LeesLisa voorgestel, omdat my jongste dogtertjie Lisa, slegs ’n paar maande oud was en die betekenis van haar naam is God se belofte. Ek het dadelik geweet dit is die naam! Die naam is so mooi simbolies – dat my dogtertjie en my besigheid basies saam gebôre is en met die betekenis van haar naam, het God sy belofte aan my nagekom dat my drome gaan waar word.  

5. Jy het ‘n boek uitgebring wat gefokus is op diabetes. Vertel ons bietjie meer daarvan.

Ek het so jaar terug op my LeesLisa se Facebook-blad gevra wat die temas is wat ouers graag sal wil hê daar oor geskryf moet word. Ek het ongelooflike terugvoering gekry, maar daar was een mamma wat vir my ’n “Inbox”-boodskap gestuur het en haar hartroerende storie met my gedeel het oor haar seuntjie wat, op die ouderdom van vier, met Diabetes Tipe 1 gediagnoseer is. Ek het nooit werklik besef dat so diagnose ’n gesin heeltemal op sy kop kan keer nie. Hulle lewens het totaal-en-al verander. Veral toe haar oudste dogter later ook met Diabetes Tipe 1 gediagnoseer is. Sy het genoem dat die Diabetes-gemeenskap ’n boek soek wat vir hul kinders die konsep kan verduidelik en dat hulle nie nou anders is nie. Die boek is daar om bewusmaking te kweek, veral vir die onderwyser, ouer en kind wat nie met Diabetes Tipe 1 gediagnoseer is nie. Dit kan hul help om dié kinders se situasie beter te verstaan. 

6. Jy het deur inperking op ‘n daaglikse basis op Facebook vir kinders regstreeks stories gelees. Wat het jou geïnspireer om dit te doen?

Op die vooraand van die vlak 5 van inperking het ek gaan stil raak en my vraag dadelik was: Wat nou van die kinders? Hulle gaan nie meer kan skool toe gaan nie, en wat beter as storieboeke om dit vir kinders beter te maak. 

Ek was effens bang, want ek het nie geweet of dit gaan werk nie, maar ek het vreesloos die besluit geneem en vir myself gesê – al kyk net 10 kinders die opnames is dit meer as genoeg.  Ek het die eerste aand begin en die nuus van Storietyd elke aand om 19:00 het soos ’n veldbrand versprei. 

My volgelinge het 10 keer verdubbel in die 3 weke wat ek elke aand storie gelees. Dit het so gewild geraak en ek kon sien die kinders is honger vir stories. Ek het ongelooflike terugvoering gekry van ouers. Foto’s, video’s en boodskappe het ingestroom. Die terugvoering was oorweldigend en al wat ek gedoen het was om my liefde vir lees met kinders te deel.  

7. Ons almal het ‘n sêding wat ons deur moeilike tye kry. Wat is jou slagspreuk?

If you stumble, make it part of the dance.

8. Wat is jou raad vir ander entrepreneurs daar buite?

Eerstens, skryf jou drome neer, dis belangrik om dit neer te pen en plak dit op êrens in jou kamer sodat jy elke dag daaraan herinner word.  Dan werk jy ’n plan uit, maar onthou om onder te begin en dat jy regtig hard moet werk om jou droom uiteindelik te bereik.  Vrees hou baie mense terug, dit steel jou drome.  Al is jy bang, is dit beter om te probeer as om glad nie te probeer nie.  Die ander ding is ook, as jy passievol is oor dit wat jy wil doen en 200% vasberade sal wees dat jy dit gaan maak werk, dan kan jy nie anders as om sukses te behaal nie.

9. Wat is jou planne vir volgende jaar?

My kreatiewe brein hou nooit op met werk nie, so ek het baie planne vir volgende jaar.  LeesLisa Uitgewers wil volgende jaar ander skrywers se drome waar maak deur hulle inspirerende stories te publiseer. Hulle kan vir my ’n e-pos stuur aan leeslisa.lees@gmail.com

Kinders is mal oor musiek – veral as jy ’n liedjie het wat by die storie aansluit.  Ek het hierdie jaar begin om skole te besoek en gaan van volgende jaar af skole besoek en my boeke aan die kinders gaan bekendstel. Ek het reeds ’n hele paar skole wat my gekontak het om hul skool te kom besoek. 

Dan wil ek ook volgende jaar 3 van my eie boeke publiseer, wat nog belangrike temas aanspreek.  

10. Wat is van jou ander passies?

My ander passie is drama! Ek is mal daaroor om karakters se storie te vertel en het alreeds in plaaslike verhoogproduksies opgetree. Ek het ingeskryf vir Mentor My en het ingekom met my aanlyn oudisie wat ek ingestuur het. Jy ontvang drama-opleiding van ons land se bekende akteurs. Daar word dan dramastukke geskryf vir elke akteur wat gekwalifiseer het en word dan volgende jaar, 2021, op nasionale televisie uitgesaai.  Ek is ongelooflik opgewonde oor hierdie geleentheid. Dit sal ook natuurlik fantasties wees as een van my boeke geskep kan word in ’n kinderproduksie. 

Kom ons kyk wat hou die toekoms in. Die geleenthede is eindeloos.