Die AHi het in 2018 afgeskop met sy skoleprogram om entrepreneurskap in skole te bevorder. Die Hoërskool Outeniqua se skole-entrepreneur van 2019 is Hanna Loubser, leerder in graad 11. Hanna noem in haar nominasie dat ʼn entrepreneur maak vir homself deure oop. Hierdie is vir my ’n besonderse stelling gesien in die huidige krisis in werkloosheid onder die jeug (15 tot 34 jaar – 63.4%). Hierdie syfers is aangekondig deur STATS SA in die 2019 se tweede kwartaal statistieke.
Sit Suid Afrika op ʼn tydbom met verwysing na die geweldige werkloosheid onder die jeug? Daarmee saam die sosiale-ekonomiese omstandighede in Suid Afrika. Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op die huidige ekonomiese aktiewe gemeenskap om vir die toekoms van môre hoop te gee. Oor die afgelope twee jaar het die politieke omgewing baie gepraat en planne beraam om hierdie vraagstuk aan te spreek, maar inderdaad nie baie aksies van implementering gesien nie.
Die Globale Entrepreneurs Moniteringsverslag van 2019 spreek ook hierdie kwessies aan en maak voorstelle ter verbetering van die Onderwys en Opleiding vraagstukke van Suid Afrika. Ek noem ’n paar voorbeelde :
Skep ’n kritiese massa van entrepreneurs as ’n langtermyn-belegging in die land
Algehele hernuwing van die onderwysstelsel
Navorsing bewys dat daar ’n direkte verband is met die opleiding van entrepreneurs op skoolvlak en die suksesvolle entrepreneurs in die besigheidsomgewing
Onderwys in entrepreneurskap moet deur ervare persone met besigheidsagtergrond verskaf word. Moderne ekonomiese beginsels moet oorgedra word
Internskappe moet aan entrepreneurs verskaf word – soortgelyk soos aan ambagsmanne.
Skep ’n leefstyl waar entrepreneurskap as ’n aantreklike loopbaan vir jongmense na skool is. Regering, arbeid asook besigheid moet dit hul gemeenskaplike doelwit maak om die gemak van besigheid doen te verseker en daardeur werk skep vir ons jeug.
Die AHi sien nie die werkloosheid onder ons jeug as n tydbom nie, maar ’n geweldige uitdaging om met alle rolspelers saam te werk om geleenthede te skep om daarmee hoop te verseker vir ons jeug. Daar is egter ook n groot taak op die jeug om verantwoordelikheid vir hulself te aanvaar, moue op te rol en hard te werk om deure vir hulself oop te maak. Die siening van werksoekers moet verander word na werkverskaffers, maak nie saak hoe gering die poging is om hulle eie besigheid te begin nie. Daar is geweldige talent in ons jeug wat net ontsluit moet word en deur innovasie dit te implimenteer vir die vierde industriële revolusie waar hulle die leiding sal moet neem.
Skole word aangemoedig om die AHi te nader om hul behulpsaam te wees met die verdere ontwikkeling van entrepreneurskap op skoolvlak en sodoende na-skool werkskeppers te word.
AHi Groete
Dr Willie Cilliers