Koop en verkoop binnekort met WhatsApp

AHi News

Ondernemings en individue sal een van die dae goedere en dienste regstreeks in WhatsApp kan aanskaf. WhatsApp, wat aan Facebook behoort, het Donderdag in ’n inskrywing op sy blog sy planne verklap vir ’n nuwe betaalstelsel binne die kletsdiens.

WhatsApp Business vir ondernemings is reeds op dreef, maar anders as Facebook self asook Instagram, kan WhatsApp-gebruikers nog nie regstreeks vir goedere en dienste op die platform betaal nie. WhatsApp sien ’n toekoms waarin ondernemings met moontlike kliënte in gesprek tree op sy platform. Sodra ’n transaksie beklink word, kan die kliënt sommer daar en dan vir die diens of produk betaal.

Betaling sal ook regstreeks in WhatsApp geskied. Facebook en Instagram bied reeds gevorderde funksionaliteit wat die verkoop van items betref. Inkopiegangers kan reeds items vanaf Instagram en Facebook aanskaf en daarvoor betaal. WhatsApp for Business verbind daagliks miljoene mense met ondernemings, wat dit ’n vanselfsprekende volgende stap maak om verkope regstreeks te bewerkstellig.

Volgens WhatsApp stuur 175 miljoen mense op ’n daaglikse grondslag ’n boodskap aan ’n onderneming op die platform. “Ons navorsing wys dat mense eerder ’n boodskap aan ’n onderneming wil stuur as hulle soek na hulp en dan meer geneig is om ’n aankoop te maak as hulle kan,” sê WhatsApp. WhatsApp se kerndiens, naamlik gesprekvoering, bly egter gratis.

Die maatskappy het ook geen melding gemaak oor of hy advertensies binne gesprekke wil invoeg nie – ’n omstrede kwessie wat hy voorheen as ’n moontlikheid geopper het ten einde die diens winsgewender te maak. Daar is nog geen aanduiding oor wanneer WhatsApp die nuwe funksionaliteit rondom betalings wil instel nie.