Leer ken die man agter die AHi

AHi News - Feature Posts

As deel van die AHi se leer-ken-ons-direksie, leer ken ons vandag vir doktor Willie Cilliers, uitvoerende direkteur van die AHi, op ’n persoonlike vlak.

Vertel ons meer van jou grootwordjare en wat wou doktor geword het as kind?

Ek is gebôre in die dorp Petrus Steyn, wat geleë is tussen Tweeling en Kroonstad, in die Noord-Vrystaat in 1962. Kort daarna verhuis ek na Heilbron waar ek gematrikuleer het aan Hoërskool Heilbron.

Ons was 7 kinders in die huis, waarvan ek 5de was. Ek het in ‘n arm huis grootgeword, met my pa wat ‘n fabriekswerker sy hele lewe lank was. My ma was ’n huisvrou wat se hande vir niks verkeerd gestaan het nie.

Alhoewel ek ’n top-presteerder was in Rekeningkunde op skool, en dit ‘n absolute talent van my was, wou ek altyd ’n motorwerktuigkundige geword het.

Ek het selfs ’n boek by die plaaslike biblioteek uitgeneem om die werking van ‘n motorenjin te verstaan. My ouers het my egter in my matriekjaar probeer oortuig om vir ’n predikant te gaan studeer. In 1980 is ek opgeroep na die ou Suid-Afrikaanse Weermag om my 2 jaar verpligte diensplig te gaan verrig. Ek het egter na die 2de jaar ‘n addisionele 2 jaar aangesluit by die weermag, omdat ek nog nie seker was oor my loopbaan vorentoe nie.

Watter herinneringe van die kinderjare bly by doktor?

My pa was ’n baie streng persoon en dissipline was uiters belangrik. Gesamentlik kom harde werk en om nie te stop voor die taak voltooi is nie. Respek vir ouer mense en jou medemens is nog herinneringe van my kinderjare wat by my bly. Die hulp aan my ma met huistake in en om die kombuis het my ook voorberei om my vrou tot vandag toe by te staan in die kombuis.

Watter beginsels wat doktor as kind geleer het, bly vandag nog by en sal dokter nie vergeet nie?

Werk hard en moet nooit opgee nie. 

Spanwerk is die enigste manier hoe mens kan werk.

Die sterk band tussen families is uiters belangrik.

Wat dink doktor is die belangrikste beginsels om mens se kind te leer om hul te pantser teen die “wreedheid” van die grootmenswêreld?

Ek dink die belangrikste is om jou kind toe te laat om foute te maak, maar uit hul foute te leer – anders sal hul nooit leer. As jou kind val, wees daar om hul met liefde weer op te tel. 

Kinders het rolmodelle nodig. My beginsel is dat kinders hul Hemelse Vader deur die oë van hul vader sien. Daar is dus ’n baie groot verantwoordelikheid wat rus op ’n pa.

Is daar iets wat doktor altyd sê of by leef (soos ’n slagspreuk / wyse woorde)

Entrepreneurskap is die hartklop van die ekonomie. Kinders moet van kleins af geleer word van die belangrikheid van entrepreneurskap as deel van hul normale opvoeding in die huis. Dit is belangrik om na Graad 12 entrepreneurskap verder te vat as ‘n loopbaan moontlikheid, veral aangesien die huidige werkloosheidstoestand so hoog is, en daar ’n dringende soek is na werkskepping.

As jy ’n taak aanvat, doen dit, maar nog meer belangrik voltooi dit!

Vertel ons meer van doktor se gesin – kinders en kleinkinders? Doktor se vrou of hond? 

Ek is bykans 40 jaar getroud met Nelia en ons het 3 dogters in die huwelik. Die twee oudste dogters is getroud en in die winter van 2021 beplan die jongste om in die huwelik te tree. 

Oupa se oogappel is natuurlik die enigste kleinkind, Dawid, wat al 4 jaar oud is. Al my kinders woon in George en dit is ’n groot voorreg om al jou kinders so naby aan jou te hê. Saam is ons ’n gedugte span. Natuurlik is daar ook twee honde-kinders, Boertjie en Bella, wat my elke dag inwag by die motorhek en as ek uitstedig is, sal hul daar sit en wag tot Nelia hul gaan haal.


Meer oor die AHi:

Vertel ons meer van doktor se passie vir die AHi?

Met bykans 10 jaar as voorsitter van die George Sakekamer en die afgelope 4 jaar as voorsitter / uitvoerende direkteur van die AHi Wes-Kaap, besef ek dat die rol wat die sakekamer in die plaaslike dorp/stad moet vervul, daadwerklik moet verander. Die geweldige ekonomiese impak van COVID-19 in 2020 het hierdie rol meer belangrik gemaak as ooit vantevore. 

Besighede het meer nodig as net netwerksgeleenthede en die AHi gaan ’n uiters belangrike rol moet vervul in 2021 om sakekamers in hierdie nuwe rigting in te lei. Die AHi is die organisasie wat besighede vanaf straatvlak tot in die grootste raadsale kan bystaan, maar moet ook alle besighede verenig om daardeur een stem te word om besigheidsbelange by regering en ander instansies te verteenwoordig.

Wat sien doktor vir die AHi se toekoms vir die volgende tien tot 20 jaar?

My droom is om die AHi in ’n wêreldklas besigheidsorganisasie te vestig en ook nouer bande met ons Belgiese vennote in Brussels, UNIZO, daar te stel. Hierdeur moet daar ook kanale geskep word vir internasionale handel.

Nuwe entrepreneurs is uiters belangrik om die land se ekonomie te laat groei en die AHi het oor die aantal jare verskeie entrepreneurs opgelei wat suksesvol is.

Baie meer moet egter gedoen word om geleenthede te skep vir entrepreneurs.

Saam bou ons aan die toekoms van SA!

Hoekom moet mense betrokke word?

Die AHi het alreeds in 2017 hervorm vanaf ‘n netwerksorganisasie na ‘n dienste-organisasie.  

Die AHi se 4 hoofpilare waarop dit gebou is: 

  1. Om besighede se belange te beskerm. 
  2. Om besighede te verenig deur die skepping van sakekamers en ander bewegings. 
  3. Om besighede te adviseer met mentorskappe, opleidinge en ander verwante dienste. 
  4. Om besighede in te lig oor alle relevante inligting wat besighede raak (wetgewing en ander).

So om deel te word van die AHi, kan jy al dié dienste wat besighede uiters nodig het, bekom.

Om meer uit te vind van die AHi, kontak ons gerus by info@ahi.wpsite.co.za.