Kort na inperking het die Malmesbury Sakekamer as’t ware uit die as herrys nadat dié Sakekamer se roete die laaste twee jaar propvol uitdagings was.
Met baie min tyd tot hul beskikking is die besluit geneem om die Diensverskaffer van die Jaar-aanwysing te kombineer met ‘n aanlyn-geleentheid; hoofsaaklik met die doel om sakemanne te bemoedig en hul moraal op te bou. Juis met hierdie doel in gedagte was die drag streng formeel, om diegene te herinner aan die jaarlikse gala-dinee waartydens wenmaatskappye aangewys word.
Weens Covid-19 oorwegings was slegs die wenners van elke kategorie en enkele komiteelede teenwoordig. Die uurlange byeenkoms was gedryf deur die wys van ‘n aanlyn-motiveringsgesprek, ‘n kort paneelbespreking daarvan en die aankondiging van die wen-diensverskaffers.
Die motiveringspreker was Dr. Gillian Arendse van die Universiteit Stellenbosch, met sy doktorsgraad in Eksperimentele Kernfisika. Tydens ‘n 10-minuutvideo het hy gefokus op die waarde van gesonde leierskap om die nodige momentum en groei binne maatskappye te verseker, om personeellede met ‘n gesamentlike doel toe te rus en almal saam vorentoe te neem. ‘If you want to go fast, go alone, but if you want to go far – take your people with you.’
Arendse het luisteraars aangemoedig om te belê in goeie leierskap, die wegbeweeg van nuttelose gevegte en om te fokus op die ‘ons’ van die besigheid, nie net op die individu of leier nie. “Gebruik uiteindelik jou lewensverhaal as ‘n inspirasie vir ander,” was ondermeer sy woorde.
Die paneelbespreking deur die seremoniemeester Brian Siebritz, voorsitter Johann Nothnagel en sakeman Chris de Jager (BGR De Jager Boshoff), het gefokus op die waarde van goeie kommunikasie en die aktiewe soeke na geleenthede tydens moeilike tye.
Die aanwys van die wenners in die Groot, Medium en Klein Kategorieë is vanjaar aangevul met ‘n afdeling waar die gewildste individu binne ‘n besigheid ook aangewys is. Dit is geskoei op die effektiwiteit en vertroue wat ‘n personeellid binne die kantoor-opset inboesem.
Malmesbury Sakekamer se Individu van 2020: Johann Nothnagel (voorsitter Malmesbury Sakekamer), Maré Nel (RSAM, 2de), Sanel Lourens (wenner; veearts by Bergzicht Dierekliniek) en Julienne Hoogbaard (vorige wenner van die individu van die jaar-toekenning). Julian Naiker (Insulated Project Solutions) is derde maar kon nie die geleentheid bywoon nie.
Klein besigheidwenners: Johann Nothnagel (voorsitter) by Jade Sedeman van Beyond Beauty (2de), Andries Groenewald van Bergzicht Dierekliniek (wenner), Janine Adonis (Malmesbury Gastehuis, derde) en Stephan Niemann (Sakekamer).
Medium besighede: Johann Nothnagel (Sakekamer), George Retief van Malmesbury Kwekery (1ste), Henk van Wyk van Henk’s Vleismark, Ilza Le Minnie van Le Minnie Attorneys (2de) en Sarie Nell (Sakekamer)
Groot besighede: Chris de Jager (BGR Boshoff en De Jager) en Johann Nothnagel, Hendrico Swart van Malmesbury Superspar (Wenner), Evangeline Lakey van Sabino Canyon Spur (derde), Hanre Koen van AR24 (tweede) en Lappies Labuschagne (Sakekamer).
Foto’s verskaf deur: Dottie Nothnagel