Marice Mercuur, AHi Entrepreneur van die Jaar, deel wenke vir sukses
AHi News - Feature PostsDie inspirerende Marice Mercuur, van Clanwilliam, is onlangs as die AHi Entrepreneur van die Jaar, aangewys. Marice bedryf haar eie velsorgbesigheid met rooibostee. Marice Rooibos Health and Beauty Products is gebore nadat Marice se dogter, Gemma, aan ekseem begin ly het. Marice het haar ma, Joyce Goes, se raad gevolg en haar dogter in rooibostee gebad – Gemma se ekseem was beter en die idee het opgevlam. Marice wou ander ook help wat met soortgelyke probleme sukkel.
Eers het sy net blokkies seep vervaardig wat deur vriende en familie opgeraap is en vandag spog sy met verskeie prestasies op haar kerfstok. In Augustus was sy een van die finale ses deelnemers aan My Fearless Next van Standard Bank. Gedurende September 2018 word sy as Shoprite se Entrepreneur van die Maand aangewys. In 2019 ontvang sy die Ministeriële Spesiale Toekenning vir Vroulike Entrepreneur van die Jaar deur die Departement van Landbou. Sy word in September ook aangewys as die AHi Entrepreneur van die Jaar.
Marice het haar vyf wenke tot sukses met ons gedeel.
“Moenie moed verloor op jou pad nie. Jy gaan baie ‘nee’s’ kry. Onthou egter: sukses gebeur nie sommer oornag nie. Die enkele ‘ja’s’ sal jou besigheid laat groei op ’n pas wat jy sal kan hanteer”, het sy gesê.
Marice waarsku ook dat entrepreneurs nie alles self moet probeer doen nie. “Jy gaan jouself vinnig uitbrand en dan het jy nie meer lus om voort te gaan nie.”
Vir haar is dit belangrik om te werk vanaf ’n goeie besigheidsplan wat met verloop van tyd aangepas kan word soos die besigheid verander en groei.
“Moenie bang wees om vir hulp te vra nie. As jy ’n mentor kan kry, sal dit jou baie help sodat hulle jou kan help om sekere foute te vermy,” het sy vertel. Sy het bygevoeg dat dit ook soms goed is om jou eie foute te maak, maar om aan ’n netwerk te behoort jou ook sal help om vars idees van ander te kry.
Marice het beklemtoon dat bemarking van die heel belangrikste aktiwiteite in jou besigheid is. “Hoe gaan mense van jou besigheid weet as jy nie bemark nie,” sê-vra sy.
“Ek is self nie die beste in bemarking van my produk nie, maar dis hoekom jy ’n goeie span moet bou wat dieselfde visie het.”