’n Tweede kans vir die Wes-Kaap na hul strenger regulasies vir eers vryspring
AHi News - Feature PostsDie AHi van die Wes-Kaap verwelkom die huidige besluit van President Cyril Rhamaphosa om nié strenger inperkings in die Wes-Kaap in te stel nie.
“Die Wes-Kaap is ook deur die media as ’n brandpunt uitgewys, maar te danke aan flink optrede deur ons Premier Alan Winde is daar nog geen wysigings aan die inperkingsregulasies in die Wes-Kaap nie” het Dr. Willie Cilliers, Uitvoerende Hoof van die AHi, gesê.
Volgens Cilliers is dit egter nou van kardinale belang dat almal, van die individu tot besighede, hul protokolle en optrede verskerp.
“Net soos die hele land nié strenger inperkings kan bekostig nie, kan die Wes-Kaap ook nie – veral nie nóú oor die feesseisoen nie,” het hy gesê.
“Die Wes-Kaapse eknonomie maak veral staat op die toerismebedryf om op te maak vir die reuse verliese van die afgelope jaar,” het hy verduidelik.
Sou strenger inperkings ook hier ingestel word, sou dit moontlik beteken dat wynplase, wat reeds erg gebuk staan onder die Covid-pandemie en gepaardgaande inperkings, nóg verdere verliese sal lei as gevolg van besoekers wat nie oor naweke voorraad sou mag koop nie.
“Die restaurantbedryf het ook nou die kans om uit sak en as te rys, maar as vroeër klokreëls aangekondig word, sal dit beteken hulle verloor kosbare tyd waarin hulle ’n inkomste kon maak,” het hy gesê.
Volgens Cilliers wil die AHi as ’n geheel alle vakansiegangers aan die Wes-Kaap verwelkom en gerusstel dat besighede vasbeslote is om saam te staan om dit so veilig as moontlik te hou in dié omgewing.
“Ons moet as ’n land saamstaan om nie net die pandemie hok te slaan nie, maar ook die sukkelende ekonomiese sektors by te staan. Ondersteun asseblief die plaaslike winkels en restaurante op die dorpies waar jy op vakansie gaan, maar bly binne die voorgeskrewe maatreëls,” pleit hy.
Pres. Ramaphosa het op Donderdag, 3 Desember die Nelson Mandela Metropool as ’n brandpunt verklaar en strenger regulasies is ingestel. Volgens die minister van gesondheid, Dr. Zwele Mkhize, sal hy ook ’n besoek aan die Tuinroete aflê om te bepaal hie ernstig die situasie daar is. Verdere aanbevelings sal dan gemaak word. Die President het ook tydens sy toespraak genoem dat, solank almal volgens die maatreëls optree, dit nié nodig sal wees om ander gebiede van die land as brandpunte te verklaar nie.
“Ons sien uit om die minister hier te ontvang en ons volle samewerking te bied om ’n tweede golf van die virus te bekamp,” het Clliers gesê.