Met my aankoms vandag op die O. R Tambo-lughawe, in Johannesburg, was dit baie duidelik dat daar ʼn atmosfeer van afwagting is, baie mense geklee in hul Springboktruie. Suid-Afrika se rugbyspan (Springbokke), natuurlik die nuwe wêreldkampioene, na hul oorwinning verlede Saterdag oor Engeland in Japan. Die afwagting was vir die aankoms van die Springbokke met die Webb Ellis-trofee. Die oorwinning van die Springbokke het duidelik Suid-Afrika verenig en ons vertrou dat ons hierop kan voortbou.
Die afrigter en sy span het nie per geluk as die wenners uitgetree nie. Inteendeel, daar was ʼn duidelike strategie met die doel om as wenners uit te tree. Behoorlike beplanning is gedoen en die spelers is deurgaans blootgestel aan verskillende kombinasies om die beste spelers te vind en te ontwikkel om as span suksesvol te kan wees. Daar is ook behoorlike navorsing gedoen oor hulle kompetisie om seker te maak dat daar strategie bestaan om hulle te klop.
Daar is baie lesse wat besigheid kan leer uit hierdie seëvierende Springbokspan.
Strategiese beplanning: Elke besigheid het ten doen om suksesvol en volhoubaar te wees. Hierdie strategie moet doelwitte soos kliënte, produkte of dienste , bemarking, infrastruktuur, winsgewendheid, hulpbronne (personeel, finansies) ens bevat.
Personeel Ontwikkeling: Personeel is en bly die grootste bate van ʼn besigheid , maar kan ook die besigheidseienaar se grootste kopseer word. Dit is van kardinale belang dat alle personeel ten volle opgelei sal word dit waarvoor hy of sy aangestel is. Dit mag dalk wees dat ʼn persoon nie in sy huidige posisie inpas nie maar mag dalk in ʼn ander posisie 100% inpas. Die strategie moet wees om ten alle tye van personeel spesialiste te maak, maar moet ook as ʼn groep kan saamwerk om die besigheid se volhoubaarheid te verseker. Dit is ook waar dat die beste persoon gekies moet word om ʼn posisie te vul en moet noodgedwonge vervang word indien daar geen moontlikheid van suksesvolle plasing is nie.
Implementering: Sonder beplanning beplan ʼn besigheid inderdaad om sy deure te sluit. Goeie beplanning sonder implementering bly net ʼn goeie dokument. Senior bestuur moet dus deurgaans werk aan strategie en seker maak dit word ge-implementeer. Die belangrikste bly egter om deurentyd te evalueer of beplande strategieë bereik is, en indien nie moet aanpassings gemaak word. Finansies moet deurgaans gemonitor word en indien nodig vinnige aanpassings gemaak word indien daar enige negatiewe eksterne of interne omstandighede mag ontstaan.
Mislukkings: Gebruik terugslae en mislukkings om jou te bou vir ʼn suksesvolle toekoms.
Bly nederig: Wees versigtig om nie hoogmoedig te word indien daar suksesse is nie, want dit kan dalk jou fokus van die besigheid afhaal.
Skep hoop: Die doel van besigheid is om volhoubaar winsgewend te wees maar ook om werk te skep en die ekonomie te groei. Kom ons gebruik hierdie nuwe gees van samehorigheid en bou daarop maar besigheid moet ook die agente van verandering in Suid Afrika word, waar daar hoop en werkgeleenthede geskep kan word.
Saam die toekoms in.
AHi-groete
Dr. Willie Cilliers
- Image: Hannah Peters/Getty Images