Die verspreiding van Covid-19 by ondernemings waar drank verkoop word, is glo ’n hoë risiko en die restaurantbedryf is gevra om vinnig met oplossings vorendag te kom.
Wendy Alberts, voorsitter van die restaurantvereniging van SA (Rasa) het Dinsdag ’n dringende boodskap aan al sy lede gestuur om so gou as moontlik met voorstelle vorendag te kom.
Dit volg nadat die regering volgens Alberts by restaurateurs wil weet wat hulle as ’n bedryf sal kan doen om te verseker dat regulasies in die feestyd nagekom word om die verspreiding van die virus te bekamp.
Volgens Alberts het die regering gesê wetenskaplikes voer aan dat die virus sal versprei op persele waar daar alkohol verkoop en gedrink word.
“Ek het versoek dat die bewyse aan my beskikbaar gemaak word en ook uitgelig dat maatskaplike probleme nie met die virus verwar moet word nie,” het sy gesê.
Volgens haar probeer die regering probleme rondom alkoholmisbruik op die bedryf se skouers te laai.
Alberts het gesê daar is reeds goedgekeurde regulasies en nou word sy uit die bloute gekontak om dringend met ’n oplossing vorendag te kom met geen idee wat die risiko is nie.
“Die regering het maande gehad om dit met ons te bespreek en nou wil hulle dadelik ’n oplossing hê,” het sy gesê.
Alberts het laastens gesê sy het die bedryf se ondersteuning nodig sodat daar nie verdere beperkings ingestel word nie.
Lees meer hier.