Die Stilbaai Sakekamer het ’n “Besigheids Biblioteek” geopen en dié biblioteek bied boeke aan sakelui wat nog die krag van boeke en lees waardeer.
’n Engelse filosoof uit die 16de eeu, Sir Francis Bacon, het die uitdrukking “Knowledge is power” geskep. Hiermee bedoel hy nie fisiese krag nie, maar die krag om te verstaan wat reg en verkeerd is, om te onderskei tussen goed en sleg en die krag om ’n situasie te beheer en suksesvol te wees in jou persoonlike en professionele lewe.
Kennis kan ook nooit verlore gaan nie – dit duur ’n leeftyd!
Die feit is dat in ’n vinnige veranderende tegnologie en sake-omgewing kennis wel kan verouder en is dit dus nodig om voortdurend nuwe kennis te bekom.
Die gratis sake-biblioteek op Stilbaai word vanuit ’n koffiewinkel op die dorp bedryf en is geskoei op die straatbiblioteek-konsep. Die biblioteek word op ’n basis van eerlikheid bestuur en lede van die sakekamer én die publiek kan boeke neem en weer terugbesorg wanneer dit gelees is.
Nadat Stilbaai-inwoners versoek is om boeke te skenk, is meer as 100 baie interessante boeke ontvang wat handel oor besigheid, autobiografieë, bemarking, politiek, leierskap, bestuur en
selfontwikkeling.
Die opening van die biblioteek was baie goed ontvang deur die sake-gemeenskap en het ook ’n positiewe bydrae gelewer tot die bekendstelling van die koffiewinkel.
Stilbaai-vakansiegangers gedurende Desember 2019 was weer bederf met welkompakkies wat klein geskenkies, afslagbewyse en bemarkingsartikels bevat het. Op 12 Desember was dié welkompakkies deur Grant Riddles, Uitvoerende Burgermeester van van die Hessequa-streek, raadslede, die Sakekamer-bestuur en Stilbaai Toerisme by die ingang van Stilbaai uitgedeel.
Elke vakansieganger is persoonlik deur die Burgermeester verwelkom.
Dié geleentheid was lewendig op Stilbaai Sakekamer se Facebook-bladsy uitgesaai. Loer gerus hier na grepe van die opwinding: https://www.facebook.com/stilbaai.sakekamer/videos/582009625985791/.