Die AHi Wes-Kaap se kantore het amptelik op 6 Januarie 2020 vir die nuwe jaar heropen en ons hoop u het die welverdiende ruskans geniet. Alle aanduidings is dat daar wel die afgelope Kerstyd ’n enkelsyfer groei in besigheid was. In sekere streke is daar ook dubbelsyfers behaal.
Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om u alle voorspoed vir 2020 toe te wens. Mag 2020 groei en stabiliteit vir u bring – selfs al lyk die klimaat in ons land nie baie goed nie. Kom ons werk met n positiewe ingesteldheid saam en verseker hierdeur ’n toekoms vir ons nageslag. Die AHi staan gereed om in 2020 daadwerklike dienste aan te bied om dit vir klein besighede makliker te maak om besigheid te doen.
Namens die AHi wil ek ook alle matrikulante gelukwens met hulle prestasies in die eindeksamen. Daar was 787 717 leerders wat regoor die land eksamen geskryf het en ’n slaagsyfer van 81.3% is behaal. Hiervan het 186 058 toelating vir ’n graadkursus aan ’n universiteit ontvang. As daar egter bietjie dieper gekyk word na die prestasies, het bykans 115 000 geregistreerde matrikulante van 2019 nié eksamen geskryf nié. Dit maak die slaagsyfer heelwat swakker as die 81%. As ons ook verder kyk na die werkloosheidsyfer van 2019 van 59% is daar nou bykans 530 000 matrikulante wat deel van die werkloosheid statistiek in ons land gaan word. Entrepreneurskap is die enigste alternatief vir hierdie geweldige probleem. Besoek gerus die AHi se webtuiste by www.ahi.wpsite.co.za vir geleenthede om jou eie besigheid te begin.
Die AHi het einde verlede jaar sy sakeplanne vir 2020 bepaal wat kortliks die volgende behels.
- Sensus / data opname van opkomende klein besighede in ʼn spesifieke gemeenskap. Dié opname sal gedoen word met die hulp van kundige organisasies en as toetsmodel vir die Wes-Kaap aangewend word. Inligting soos aantal besighede, sektore, ligging van besigheid, aantal werkers in diens, omsette en netto inkomstes sal opgeneem word. Verder sal daar ook ondersoek ingestel word na die spanderingspatrone van huishoudings. Wat word waar aangekoop en hoekom?
- Ontwikkeling van basiese boekhou opleidingsmateriaal wat gebruik kan word om klein besighede by te staan met hul finansiële vaardighede. Navorsing het bewys dat dit tans die grootste probleem van opkomende klein besighede is. Hierdie opleiding sal op verskillende metodes aangebied word soos byvoorbeeld ʼn toepassing op ʼn selfoon asook elektroniese leersisteme.
- Besigheidspersele en fasiliteite sal ook in 2020 aandag geniet deur ontwikkelings-vennootskappe met Munisipaliteite se stadsbeplanners asook plaaslike ekonomiese ontwikkelings-kantore aan te gaan. Wetgewing om besigheid te vergemaklik sal ook aangespreek word.
- Ontwikkeling en saamstel van ʼn Sakekamer-handleiding sal ook in 2020 afgehandel word om dit beskikbaar te stel vir bestaande sakekamers asook nuwe sakekamers. (AHi SAKEKAMER BLOUDRUK)
Verder is daar besluit om die AHi webtuiste asook sosiale media platforms meer toeganklik te maak vir sy lede. Dienste asook handelsgeleenthede sal deur die lede-portaal bedryf word. Nuus uit die sakekamers sal ook gereeld deurgegee word in ons twee-weeklike nuusbrief wat sakekamer-aktiwiteite in die Wes-Kaap sal insluit.
Neem ook asseblief kennis dat die AHi kantore verskuif het na York Straat 112, George. Dit is binne die sentrale sakekern en meer toeganklik vir besighede. Ons verwelkom u graag by ons nuwe perseel.
Saam die toekoms in,
AHi-groete
Dr Willie Cilliers