Vroue – ’n onbenutte bron in die sakewêreld

AHi News - Entrepreneurship

“Women are the most underutilized economic asset in the world’s economy.” – Angel Gurria, Secretary-General, OECD

Navorsing die afgelope paar jaar wys dat al hoe meer vroue toegang tot die wêreld se ekonomie gekry het en ook ’n groot bydrae begin lewer het. In Amerika het vroue die afgelope twintig jaar teen ’n hoër tempo besighede begin as mans, en daar word verwag dat dat meer as die helfte van die 9,72 miljoen nuwe werksgeleenthede deur vroulike entrepreneurs geskep sal word. ’n Harvard Business Review artikel beweer dat 37% van alle besigheidsentiteite, wêreldwyd, deur vroue besit word. Global Entrepreneur Monitor (GEM) beraam dat, in 68 lande van die 188 lande wat die wêreldbank erken, 126 miljoen vroue nuwe besighede begin het of bestuur, terwyl ’n verdere 98 miljoen vroue gevestigde besighede bestuur. Dit wil sê dat 224 miljoen vroue aan die stuur van klein tot groot besighede staan in die 68 lande. Dit is dus duidelik dat vroue, veral in gevestigde ekonomieë, reeds ’n groot bydrae tot die wêreld se ekonomie lewer.

Maar, vroue bly nogsteeds ’n onbenutte bron, veral in ontluikende ekonomieë waar geleenthede om die besigheidsarena te betree nie altyd maklik is vir vroue nie. In 2018 het die World Economic Forum geskat dat as vroue bemagtig word, dit $28 triljoen tot die groei van die wêreld se GDP kan bydra. In Suid-Afrika het Development Economics, namens Facebook, navorsing gedoen en beraam dat vroue die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n hupstoot van R175 biljoen kan gee teen 2022. Dieselfde navorsingstudie het gevind dat as al die vroue wat aangewys het dat hulle ‘n besigheid wil begin, een begin, 973 000 nuwe werksgeleenthede in die volgende vyf jaar geskep kan word. Dit is dus duidelik dat vroue nogsteeds ’n onbenutte bron is binne ons ekonomie en ’n baie groter bydrae kan lewer.

Booz and Company het ’n baie interresante studie in 2012 gedoen, getiteld Empowering the Third Billion: Women and the World of Work in 2012. In die wêreldwye studie is gevind that indien mans en vroue ‘n gelyke geleentheid tot besigheid en werk kan kry hulle lande soos Amerika se GDP met 5% kan laat groei. Daar is gevind Japan sin met 9% kan groei, Indië sin met 27% en Egipte sin met 34%. Die studie het gevind dat Suid-Afrika se GDP met 10% kan groei indien mans en vroue gelyke geleenthede het en tot die ekonomie kan kry. Uit die studie was dit duidelik dat vroue, veral in arm en ontluikende ekonomië, ‘n groot onbenutte bron is. 

Die studie het ook verder gekyk na hoe beleide rakende onderwys, diskriminasie wetgewing en ondersteuning van jong entrepreneurs vroue se vermoë om by te dra tot die ekonomie beïnvloed. Die studie het lande geranglys rakende  kriteria wat bepaal hoe effektief lande vroue bemagtiging om te kan bydra tot die ekonomie. Die kriteria wat gebruik was is: “voorbereiding vir deelname aan die ekonomie”, “toegang tot werk en regerings beleide rakende toegang tot werk vir vroue, “ondersteuning van entrepreneurs”, “inklusiwiteit”, “bevordering” en “betaling”. 

Suid-Afrika het volgens dié studie as volg gevaar:

· Voorbereiding vir deelname aan die ekonomie – 80ste
· Toegang tot werk en regeringsbeleide rakende toegang tot werk – 49ste
· Ondersteuning van intrepreneurs – 39ste 
· Bevordering – 3de
· Inklusiwiteit – 58ste
· Betaling – 42ste 
· Gemiddeld – 36ste

Die studie maak dit baie duidelik dat indien Suid-Afrika vroue as ’n ekonomiese bron suksesvol wil ontgin, ons aandag sal moet skenk aan hoe ons vroue en jong meisies voorberei vir deelname aan ons ekonomie. Die manier hoe ons potensiële entrepreneurs en werknemers voorberei vir deelname aan die ekonomie is nie suksesvol nie, veral as dit kom by vroue. In my opinie, het ons tot nou toe verwag van vroue om meer soos mans te word sodat hulle op gelyke voet met mans kan kompeteer in ’n “manswêreld”. Dit moet verander.

Laat ek dit verduidelik aan die hand van ’n analogie. As ek ’n appelsaad plant, bring dit ’n appelboom voort, wat vir my ’n appel as vrug gee. In die analogie is die saad hoe mense dink, die boom die aksies van die mens en die vrug die uitkoms van die aksies. Indien ek graag perskes wil hê, moet ek perskesaad plant, om ’n perskeboom te kry, wat vir my perskes as vrug sal gee. 

Dus, dit help nie ons probeer om mense se aksies te verander, maar ons verander nie die denkwyses wat die aksies beïnvloed nie. Indien ons werklik vroue as ’n ekonomiese bron wil ontgin moet ons die denkwyses van vroue en mans begin verander rakende vroue in besigheid en die werkplek. 

Ons moet ophou om van vroue te verwag om soos mans te wees sodat hulle kan kompeteer in ’n “manswêreld”. Ons moet begin kyk na wat is die unieke eienskappe van vroue wat ’n groot bydrae en verskil kan maak in ’n inlkusiewe besigheidswêreld waar almal by baat kan vind. In die opvolgende artikels gaan ek kyk na wat is die unieke eienskappe van vroue wat hulle ’n ongelooflike bron kan maak vir ons en die wêreld se ekonomie. – Elise Coetser: Nasionale Leier van die South African Council of Business Women.