Pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting dié week die land toespreek rakende die jongste verwikkelinge rakende die Covid-19-pandemie.
SABC News berig die president het tydens ʼn geleentheid oor die naweek gesê dit is hoog tyd dat hy weer die land toespreek.
Ramaphosa het verlede week tydens ʼn vergadering van die Afrika-unie gesê lande moet waaksaam wees ten einde ʼn tweede vlaag van die koronavirus te probeer vermy wat tot hernieude inperkings kan lei.
Die pandemie toon baie veerkragtigheid en lande wat ʼn afname in infeksies getoon het, ondervind ook nou weer toenames in infeksies wat tot nuwe inperkings lei. Ons moet daardie scenario in Afrika probeer vermy,” het Ramaphosa gesê.
Dit kom te midde van al meer berigte dat die land se Covid-19-gevalle weer begin toeneem en dat ʼn strenger inperking oorweeg kan word.
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het verlede week sy kommer oor die toename in nuwe Covid-19-gevalle oor die afgelope paar weke uitgespreek. Mkhize, wat self onlangs positief vir Covid-19 getoets het, het verlede Woensdag gesê Suid-Afrika se jongste epidemiologiese verslae toon ʼn toename van 9,1% in nuwe gevalle van Covid-19 oor die afgelope sewe dae terwyl ʼn toename van 10,7% oor die afgelope twee weke waargeneem is. ʼn Toename in nuwe gevalle is boonop in sommige provinsies opgemerk.
Sedertdien was daar ook nog uitsprake in dié verband, onder andere deur Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal. Hy het gesê ʼn streng inperking kan weer te wagte wees indien daar nie dringend ʼn verandering in mense se “roekelose gedrag” kom nie. Hy het gesê baie mense dra nie maskers nie en woon geleenthede by waar daar meer as die maksimum toegelate mense teenwoordig is.
Die Gautengse departement van gesondheid het inwoners van dié provinsie intussen ook gevra om waaksaam te bly rakende die koronavirus. Dít nadat Bheki Cele, minister van polisie, oor die naweek saam met nog regeringsamptenare en wetstoepassers op ondernemings toegeslaan het wat die koronavirus-regulasies verontagsaam.
Daar is onder meer op ʼn gewilde kuierplek in Sandton toegeslaan en die onderneming se deure is summier gesluit aangesien die klub glo nie ʼn geldige lisensie het vir die verkoop van drank nie en omdat verskeie regulasies, waaronder die aandklokreël, glo verontagsaam is.
“Die verslapping van beperkings op ekonomiese en sosiale aktiwiteite beteken dat daar meer wisselwerking tussen mense is en dat die risiko van die oordrag van die virus hoër is,” het die Gautengse departement van gesondheid gesê.
“Die virus word hoofsaaklik oorgedra tussen nabye kontakpersone en veroorsaak uitbrekings. Ons het kommerwekkende verslae gesien in ander dele van die land waar sekere gebiede geïdentifiseer is waaruit ʼn beduidende aantal nuwe gevalle van die koronavirus spruit weens sosiale aktiwiteite met min nakoming van gesondheidsprotokol.
“Die risiko van ʼn oplewing in Gauteng is ook hoog en daarom moet ons alles in ons vermoë doen om onsself en diegene rondom ons te beskerm deur aan gesondheidsprotokol te voldoen terwyl daar nog geen inenting vir Covid-19 is nie.”
Suid-Afrika het teen Sondagaand al 715 868 bevestigde Covid-19-gevalle aangemeld. Meer as 640 000 mense het reeds herstel en 18 968 mense is oorlede.