Wees deel van die oplossing en ondersteun kusdorpe, pleit Suid-Kapenaars

AHi News - Feature Posts - Tourism

Selfs mét strande wat oor sekere areas van die Wes-Kaap en Tuinroete as gevolg van die nuwe koronavirus-inperkings gesluit is, kan vakansiegangers aan dié streek nogsteeds uitsien na ’n blaaskans met alles wat gebied word.

President Cyril Rhamaphosa het tydens sy aankondiging op Maandag, 14 Desember 2020 gesê dat strande en openbare parke aan die Tuinroete én Oos-Kaap met onmiddelike effek gesluit sal wees tot en met Sondag, 3 Januarie 2021.

“Die Tuinroete is ’n juweel wat nou van voor af ontdek kan word. Vakansiegangers moet nie hul vakansies kanselleer nie, neem eerder die besluit om as gesin die area te kom verken en op só manier die ondergang van nog meer besighede help bekamp,” het Dr. Willie Cilliers, Uitvoerende Hoof van die AHi (voorheen Afrikaanse Handelsinstituut), gesê.

“Alhoewel dit met ’n swaar hart is wat ons die nuus oor strenger inperkings ontvang het,  verstaan die AHi dat die Tuinroete nou in ’n kritieke situasie is met staatshospitale wat volle kapasiteit bereik het,” het hy bygevoeg.

“Ons moet nou elkeen ’n kopskuif oor die omstandighede gedurende die feesseisoen maak sodat dit nogsteeds geniet kan word. Kom op vakansie, ondersteun die plaaslike winkels en geniet ander aktiwiteite wat soms afgeskeep word omdat die strand voorkeur kry,” het Cillers gesê.

“Dit is ’n groot terugslag, maar met klein aanpassings aan die vakansieplanne kan dit nogsteeds ’n kwaliteit vakansie wees. Die AHi nooi daarom besoekers om die talle sakpas aantreklikhede, onder meer die talle staproetes in die ongeskonde natuur en langs die wandelpaaie teen die kus te geniet. Mosselbaai is die avontuurhoofstad van die Tuinroete en bied unieke besienswaardighede en verskeie avontuuraktiwiteite wat ongeëwenaarde herinneringe en ervarings waarborg.”

Volgens hom is dit nou, meer as ooit, elkeen se verantwoordelikheid om saam te staan voordat die land nóg verder geknou word.

Die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit (wat Graaff-Reinet, Grahamstad, Somerset-Oos, Kirkwood, Jeffreysbaai, Kareedouw en Port Alfred insluit) en die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (onder meer Knysna, George, Sedgefield, Plettenbergbaai, Mosselbaai en Oudtshoorn) is tot brandpunte verklaar. 

Met die hele land wat vanaf Dinsdag, 15 Desember onder strenger maatreëls ingeperk is, staar diegene wat versuim om daaraan te voldoen ’n 6 maande tronkstraf of hewige boete in die gesig. Nuwe maatreëls wat geld, sluit ook in dat die aandklokreël nou van 23:00 tot 04:00 sal wees en in brandpunte reeds om 22:00. 

“Ons is dankbaar vir die die verskeie vakansiegangers wat ons reeds hier sien en wil almal gerusstel dat elke munisipaliteit in die Suid-Kaap-distrik hul volle samewerking te bied om dit veilig vir almal te maak,” het Clliers gesê.