Nagenoeg halfmiljoen mense wat in die tweede kwartaal tydelik afgelê is, het weer in die derde kwartaal begin werk soos Suid-Afrika na ligter inperkingsvlakke vir die Covid-19-pandemie beweeg het.
Maar daar is steeds 1,7 miljoen minder mense met werk as ’n jaar gelede, blyk uit die kwartaallikse indiensnemingspeiling (QLFS) wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) pas uitgereik het. Terwyl matrikulante leer vir hul eindeksamen lyk die kans dat hulle werk gaan kry, droewig.
Die amptelike werkloosheidskoers het opgeskiet tot 30,8% teenoor 23,3% in die tweede kwartaal. Die tweede kwartaal se syfers is egter skeefgetrek omdat mense weens die strenger inperkings nie werk kon soek nie. Mense wat nie aktief werk soek nie, word nie as werkloos getel nie.
Die 30,8% word beter vergelyk met die eerste kwartaal se 30,1%, en wys dat werkloosheid steeds aan die styg is sedert die begin van die jaar. Die uitgebreide werkloosheidskoers het ook skerp gestyg, tot 43,1% teenoor die tweede kwartaal se 42% en die eerste kwartaal se 39,7%.
Dié syfer, wat ontmoedigde werksoekers insluit, wys dat meer as twee uit vyf mense van werkende ouderdom nie werk het nie, nie verder leer nie, en baie van hulle moed verloor het dat hulle werk sal kry.