Die werkloosheid statistieke in Suid Afrika vir die tweede kwartaal van 2019 is onlangs aangekondig met ʼn skokkende syfer van 29% en die uitgebreide syfer van 38%. Dit beteken kortliks dat daar 10.2 miljoen mense in die arbeidsmark in Suid Afrika nie werk het nie. Die
werkloosheid in die Wes-Kaap lyk egter beter met syfers van 20.8% en uitgebrei van 24%.
Hierdie laaste statistieke word as die swakste syfers ooit aangekondig en dit bekommer die AHi Wes-Kaap dat dit bly by statistieke en daar nie daadwerklike pogings bestaan om geleenthede te skep waar daar volhoubare ekonomiese groei kan wees en sodoende werk geskep kan word nie.
Met die huidige ekonomiese groeikoers van bykans 1% per jaar en die populasie groei van 1.6% per jaar stuur Suid-Afrika af op baie uitdagende ekonomiese toestande in die jare wat volg. Die formele sektor kan nie byhou met volhoubare groei vir werkskepping- ons sien eerder groot getalle van personeel afleggings in groot maatskappye. Die onsekere ekonomiese klimaat veroorsaak ook dat moontlike investerings (uitbreidings) by groot maatskappye uitgestel word en ’n wag-en-sien-houding word ingeneem.
Die groot vraag is egter of Suid-Afrika kan wag vir die ekomonie om eers te herstel voor die werkloosheid aangespreek kan word. My siening is dat ons glad nie kan wag nie en sal aan alternatiewes moet begin werk.
Met ons onlangse AHi-kongres het Prof. Frederick Fourie van die Universiteit Vrystaat ons ingelig oor navorsing gedoen oor die groei moontlikhede van die Informele sektor met beduidende moontlikhede van werkskepping. Uit hierdie navorsing is daar bykans 2 miljoen
informele kleinbesighede in Suid-Afrika wat werk skep vir ongeveer 3 miljoen werkers. Een uit elk ses werkers werk in die informele sektor wat ʼn persentasie van 18% verteenwoordig. Waar die tradisionele informele besigheid gesien as die handelaar op die straathoeke het die sektor nou verskuif na ander kleinbesighede in konstruksie, kleinhandel, dienstebesighede, vervaardiging, kommunikasie en elektroniese besighede, ens. Die nuwe sektor besighede het groot potensiaal vir werkskepping en sal daadwerklik ondersteun moet word.
Die navorsing het die vier sleutel uitdagings van die Informele besighede met groei potensiaal uitgewys as volg:
– Die gebrek aan beskikbare en veilige besigheidpersele wat na aan die markgebiede is.
– Beperkte of geen boekhouding vaardighede
– Die gebrek aan finansies, kredietverskaffing asook versekering, ens
– Word deurgaans geteiken deur misdadigers en selfs die ontoeganklike bywette van plaaslike regerings wat hul verhinder om sake te doen
Die AHi het dit sy prioriteit vir 2020 gemaak om na die vraagstukke te kyk en daadwerklike aksieplanne te beraam om daaraan aandag te gee om werk in die informele sektor te skep.
Hiervoor is daar n werkswinkel geskeduleer vir 14 en 15 November 2019 te Wildernis. Alle rolspelers (AHi Sakekamers, LED Bestuurders van Plaaslike Regerings, AHi Direksie asook Uitvoerende Bestuur, Universiteit Vrystaat asook genooide kooperatiewe besighede) sal deelneem met die opdrag om n uitvoerende sakemodel te ontwerp en stappe van implementering vir 2020.
Saam kan ons die ekonomiese uitdagings aanpak met die einddoelwit om volhoubare werk te skep.
AHi Groete
Dr Willie Cilliers