Wes-Kaap boere gevra om by sakekamers in te skakel

Agriculture - AHi News

Agri Wes-Kaap het Wes-Kaapse landbouleiers en boere gevra om as besigheidsleiers in hulle eie reg, hul gewig by die sakekamers van AHi Wes-Kaap in te gooi, sê die president van Agri Wes-Kaap, Cornie Swart.

Bron: AHi Wes-Kaap,Crossword Kommunikasie en bemarking

Cornie sê die landbou is ongetwyfeld die ruggraat van die ekonomie. “Ons is die grootste werkgewer. Wat met die landbou gebeur het direk te doen met die voorspoed van elke dorp. Betrokkenheid van elke boer en besigheidseienaar is die sleutel. Daarom moet ons nou hande vat. Ons moet kyk hoe ons kan saam werk met elke munisiplaiteit, die provinsie, besigheidleiers en met die gemeenskappe.“

Hy moedig lede van boereverenigings aan om, aanvullend tot lidmaatskap van boereverenigings ook lede van die AHi Wes-Kaap se sakekamers op hulle naaste dorpe, te word. Cornie was onlangs ‘n spreker tydens ‘n Tuinroete, Karoo en Hessequa AHi Wes-Kaap werkwinkel op Stilbaai.

In sy reaksie op die oproep deur landbou sê die HUB van Agbiz, dr. John Purchase dat die rol van sakekamers in beginsel meer belangrik word nou dat regering op plaaslike vlak minder doeltreffend word.

Die ekonoom Mike Schüssler sê Suid-Afrika het die landbou en besigheid nou meer as ooit nodig. “Ons is tans in so lae groeiklimaat dat ons alle moontlikhede in die stryd teen rompslomp en swak regering moet ondersoek indien ons dit enigsins as ‘n demokrasie wil maak. Besigheid kan net versterk word deur landbou, en boere kan verseker ook baat by samewerking met sakekamers.”


Verbind tot samewerking

Volgens dr. Willie Cilliers, voorsitter van AHi Wes-Kaap is nouer skakeling met die landbou en landbouverenigings in alle dorpe in die provinsie noodsaaklik. “Ons het van ons hoofspreker Japie Gouws, gehoor dat landbou die grootste ekonomie in die Wes-Kaap is. AHi Wes-Kaap gaan seker maak dat ons hierby betrokke is en bly.“

“Ons almal beweeg in silos, maar ons vraagstukke is eintlik dieselfde“, sê Cilliers. “Dit gaan oor ekonomiese groei. Hoe skep ons werk? Wanneer dit swaar gaan op plase kom plaaswerkers dorp toe en word deel van die potensiële werklose plakkersgemeenskap. Ons moet dit beveg deur kragte met landbou saam te span en mense met sakevaardighede toe te rus.“

Swart sê: “Eintlik is elke boerdery net ‘n besigheid buite die dorp. Ons het nie meer Afdelingsrade nie. So, ons is nou in alle opsigte een munisipaliteit. Dit wat gebeur op die plaas het direk te doen met die ekonomie van die dorp. Geen munisipaliteit of dorpsbesigheid kan sonder inkomste van plase af oorleef nie.“

Hy voeg by dat daar tussen boere en sakelui gepraat moet word oor munisipale aksies en veiligheid. “Buurtwagte in dorpe en plaaswagte kan nie net vir die polisie die skuld gee vir die hantering van toenemende aanslae op plaasveiligheid nie. Hulle moet weet dat die boere en sake ondernemings saamstaan en met goeie inligting en ondersteuning kan en wil help.“


Meer aandag van plaaslike owerhede

Volgens dr. Purchase is samewerking op hierdie vlak noodsaaklik. “Agbiz is as landbou sakeleiers geaffilieer by die “Apex”-organisasie, Business Unity South Africa (BUSA). Só skep ons ‘n verenigde stem vir besigheid. Munisipale dienslewering, veiligheid en sekuriteit is besliste raakvlakke.“

Hy noem dat ‘n behoorlike waardeproposisie tussen die organisasies moet bestaan. “Dit kos sakekamers geld om te funksioneer en hul waardeproposisies suksesvol uit te voer. Gesamentlike lidmaatskap van boere by hulle boereverenigings en naaste sakekamers sal net werk as die waarde wat hul bied duidelik is en gelewer word.“

Schüssler sê boere en sakelui kan saam beter netwerke skep. “Ons besighede moet hul volle potensiaal bereik. Dit is belangrik dat hulle saam meer aandag van munisipaliteite sal kry.”

Dr. Cilliers het die AHi Wes-Kaap daartoe verbind om spoedig met Agri Wes-Kaap om ‘n tafel te sit. Die AHi Wes-Kaap onderneem om toepaslike inligting aan Agri Wes-Kaap geaffilieerde organisasies te gee en in ruil ook direkte toegang tot die boereverenigings van Agri Wes-Kaap te kry. “Ons gaan die koppeling bewerkstellig en verseker dat ons sakekamers en boerderybesighede wedersyds waarde ontsluit.“

Bron: AHi Wes-Kaap,Crossword Kommunikasie en bemarking